Local newsNews

My hart is vol hoop sê Magda

Die hoop lê hoog in Magda Bootha se gemoed terwyl sy pak om Tzaneen na 41 jare te verlaat.

Hartseer lê ook hoog want al verplaas sy haar lewe na die stad, lê haar wortels hier gegrawe. Haar nalatenskap is in die meer as 200 kankerlyers wat sy in die laaste 25 jaar begelei het, baie van hulle ‘survivors’, ander tot in daardie private ruimte van die laaste ure van lewe. Haar passie vir kankerpasiënte het in die middelnegentigerjare begin toe ‘n vriendin kolonkanker gekry het.

“Sy was ‘n baie private mens en dit was net in die laaste ruk van haar lewe wat ek tot die volle besef gekom het hoe die fisiese trauma van kanker op lyers indryf.” Magda is betrokke by die Tzaneen Care Group.

Hulle is ‘n groep inwoners wat (met die ondersteuning van die gemeenskap) begin het om na lyers om te sien, nie net deur besoeke en begeleiding nie, maar met praktiese hulp soos mediese toerusting.

Also read: Petro gee tweede kinderboek uit

Sy is direkteur van die sentrum en ook die langste dienende lid. Vandag het die sentrum ‘n huis in Aqua Park waar pasiënte versorg word waarvan 90% pro bono is.

Om te sê sy het haar lewe aan dié werk gegee, is sagkens gestel. Soggens het sy teen 09:00 begin ry na al die dorpies en gebiede rondom Tzaneen, vanaf Letsitele, Gravelotte tot in Mooketsi om berading aan lyers te gee. Baie van die werk is uit haar eie sak gefinansier omdat daar nie altyd geld was om te betaal nie.

Sy sê hoewel baie pasiënte deur die jare haar aangeraak het, is dit Louis, ‘n pasiënt wat op die Deerpark-pad gebly het en aan ‘n rolstoel gekluister was, wat haar aangespoor het om te werk na ‘n fisiese sentrum waar mense versorg kon word.

“Hy het versnaperings verkoop aan werkers om aan die lewe te bly en het nie ‘n verhouding met sy kinders of familie gehad nie. Aan die einde van sy lewe het ek hom na ‘n klein tweevertrek-fasiliteit geneem, die enigste wat in daardie stadium beskikbaar was.

Ons kon hom met van sy familielede herenig. Ek het weer eens besef hoe belangrik dit is om ‘n plek te hê wat goed ingerig is met verpleegpersoneel wat versorging kan bied.”

Also read: 36-year-old man accused of bestiality is granted bail

Magda vertel dat tydens ‘n fondsinsameling geleentheid sowat ses jaar gelede was ‘n vrou in die gehoor so aangeraak dat sy lewensreg op ‘n huis geskenk het wat hulle kon inrig. Nog geldinsamelingsprojekte is gehou en vandag is die huis die laaste versorgende en private lewenstop vir baie lyers in die omgewing.

“Die tipe van versorging is gebaseer op resek van die sterwende se lewensoortuigings. Begeleiding vind binne die raamwerk plaas,” sê Magda. Die besluit om uiteindelik Tzaneen vir Randburg te verruil het gekom nadat sy covid opgedoen het.

“Daarna het een van my dogters gesê: Dis nou tyd!” En vir die eerste keer het sy besef dat dit belangrik is om na aan haar familie te woon terwyl sy die volgende lewensfase betree. Sy het haar geliefde man, ‘n sakeman en politikus vyf jaar gelede aan die dood afgestaan en hy en haar seun is in Tzaneen begrawe. Sy sê tydens die siekte was dit haar ‘familie’ by die sentrum wat daagliks gesorg het en kos en medisyne aangedra het. Sy trek volgende week met ses honde, vier katte en vier papegaaie. Haar huishulp van veertig jaar gaan ook saam.

“Ek weet ek gaan Tzaneen verskriklik mis, maar ek sien uit om my nuwe huis in te rig, tuin te maak en tyd saam met my kleinkinders te bestee,” sluit sy af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button