Local newsNews

ZZ2 en Makgobas vertel ‘n inspirerende storie

In April volgende jaar gaan die Makgoba-gemeenskap in Magoebaskloof hulle eerste avokado-oes afhaal en onder die handelsnaam, Makgoba Afrika uitvoer.

Dié inspirerende storie van die tamatiereus ZZ2 se vennootskap met die Makgoba-gemeenskap in Magoebaskloof, is verlede week op die KykNet-program, Megaboere vertel. In die program sê die voorsitter van die Makgoba Trust, Thupane Makgoba dat daar aan hulle as ‘n gemeenskap in 1998 veertig plase toegeken is wat in ‘n trust geplaas is. Hierna het die trust na ‘n vennoot begin soek om die landbougrond in winsgewende bedrywe te omskep. Na vele verkennende gesprekke met belangstellende groepe en uitgerekte onderhandelings is daar uiteindelik op die kundigheid wat ZZ2 bied besluit, vertel hy in die program.

Dit het gelei tot die gesamentlike stigting van ‘n bestuursmaatskappy, Makgoba Asset Management (MAM), waarvan 49% in die hande van ZZ2 is en 49% aan die trust behoort. Die uitstaande 2% behoort aan ‘n fasiliteerder. Die doel van MAM is om die Makgobas se bates te bestuur sodat dit die gesamentlike verwagtings van die vennote kan dien. BJ van Zyl, ZZ2-direkteur aan die stuur van MAM, sê in die program dat hoewel die onderhandelinge lank geneem het, gebeur niks oornag nie. “Die Sotho-spreekwoord sê ‘dans na die ritme van die tromme’.” Hierdie ZZ2-waarde was hier van toepassing en is ook iets wat ZZ2 elke dag uitleef.

ZZ2 se hoofuitvoerende beampte, Tommie van Zyl, sê in die program dat hulle en die Makgobas ‘n gesamentlike belewenis van 140 jaar in die omgewing deel. Hy verwys ook na ‘n gedeelde toekomsvisie. “Toe ek Thupane die eerste keer vra wat hy wil bereik, het hy gesê sukses.” Hy sê ook die lang onderhandelings daartoe gelei het dat hulle seker is van mekaar se verwagtings.ZZ2 se avokadokwekery produseer 250 000 bome per jaar. Hierteenoor moet ander produsente tot agt jaar wag voordat hul bome van ‘n kwekery ontvang weens tekorte in die bedryf. Dié toegang tot bome het MAM bemagtig om voort te gaan met die aanplanting van avokadoboorde in 2018 op die plaas Dieplaagte in Magoebaskloof. Dit is die boorde wat in April die eerste oes gaan lewer.

Burtie van Zyl, hoof van ZZ2 se avokadoproduksie, sê die rede waarom ZZ2 betrokke geraak het is om die omgewing te ontwikkel. “Dit skep ook ‘n tuiste vir ons mense en waarde vir die gemeenskap wat ons bure is.” Twiste onder groeperinge in die Makgoba-gemeenskap raak nie die werk wat MAM doen nie. MAM se doelstellings om waarde te skep en die bates en omgewing te bewaar nie deel van dié interne konflikte nie, het BJ gesê. Die gedeelde waardes van eerbied en respek is wat die vennootskap suksesvol maak. “Ons leef die nalatenskap van Nelson Mandela uit,” het Tommie mee afgesluit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button