Local newsLocal sportNewsSport

Boog in die hand, pyle in die kol

Merensky se boogskietklub een van die voorstes in Limpopo.

Boogskiet is soos terapie, dit verg uiterse konsenstrasie en na ‘n moeilike dag laat dit jou van alles om jou vergeet!

Seph Oosthuizen, afrigter en voorsitter van die Merensky Boogskietklub, sê dit neem dissipline om ‘n goeie skut te word. “Dit is ‘n vaardigheid wat oorspoel na ander lewensfere soos skoolwerk. Dit leer jou om te fokus, jy sny jouself af van wat rondom jou aangaan en jy konsentreer net op jouself, die boog en die teiken.”

Hoewel die klub by die Hoërskool Merensky gesetel is, kan enigiemand daaraan behoort. “Tans het die klub meer as 30 lede, waarvan heelwat nie noodwendig leerders by Merensky is nie.” In Limpopo is daar ook klubs in Polokwane en Phalaborwa.

 

 

Oosthuizen sê die sport neem in gewildheid toe, veral in Gauteng waar binnenshuise boogskiet groot aanhang geniet. “In Limpopo is tradisionele jagboë (compact bow) gewild, maar is Gauteng is die gebruik van die sogenaamde Robin Hood-boë gewilder,” sê Oosthuizen.

Binnenshuise boogskiet word op ‘n afstand van 20 treë (yards) geskiet en word as intree-item aanbeveel. Meeste van die kompetisies vir die item word in Gauteng aangebied en die klub reis dikwels naweke daarheen om deel te neem.

Die sogenaamde ABO-item, waar driedimensionele diere (poppe) tussen 10-60 treë geplaas word, is ook ‘n baie gewilde item. “Dit is geskik vir senior leerders en volwassenes, dit is meer uitdagend omdat niemand seker is wat die afstand van die dier is nie.”

Die laaste item waaraan deelgeneem word, is die “veldklas” (field class) wat vir ervare skuts geskik is. Dit is oor ‘n afstand van 80 treë en vir die jong kinders is dit baie ver om te stap en hulle raak te moeg, sê Oosthuizen.

“As jy onfiks is en jou hartklop is vinnig en jy bewe, kan jy die boog nie beheer nie en sal jy nie goed vaar nie.”

Om die sport te bemeester, verg uithouvermoë. Dikwels raak kinders gefrustreerd omdat dit lank neem totdat die perfekte balans, posisie en aksie gevind word. “Elkeen moet dit vir homself kan uitwerk en wanneer jy dit regkry, moet jy dit onthou en herhaal.”

Hoewel hulle boë vir beginners het, beveel hulle aan dat elkeen sy eie boog koop. “’n Boog word vir ‘n indiwidu ingestel volgens sy of haar vemoëns of tekortkomings. Dit is moeilik om dit elke keer te doen voordat jy nog begin oefen.”

Merensky Hoërskool het ‘n baie goed toegeruste boogskietbaan. Die seniors oefen op Maandae op hul eie, op Dinsdae oefen die juniors en word daar gewerk om hul konsentrasievermoëns te verbeter, op Woensdae word die ABO-item ingeoefen en op Donderdae word alle afstande geoefen.

Merensky Boogskietklub bied jaarliks ‘n groot binnenshuise kampioenskap by Die Eiland Spa aan.

Mense wat belang stel om by Merensky Boogskietklub aan te sluit, kan vir Oosthuizen skakel by 071 199 3147.

Related Articles

Back to top button