Local newsNews

Dwergverkleurmannetjie gedy op Mahela se kiwi plaas

CITES lys die Wolkberg dwergverkleurmannetjie se status onder die minste bedreigde spesies.

MAHELA Groep se eerste goue kiwi oes word binnekort gepluk maar dit is nie net die kiwi’s wat floreer op Standford Heights nie.

Die getal Wolkberg verkleurmannetjies op die plaas het die afgelope tyd aansienlik toegeneem danksy Mahela se pro-bewaring benadering tot boerdery.

Francois Vorster sê Mahela gebruik nie skadelike plaagbeheermiddels in en om die kiwi wingerde nie.

Die verkleurmannetjies kan dus nie indirek vergiftig word deur insekte te eet wat met gif in kontak was nie.

Werkers weet ook om die verkleurmannetjies met vrede te laat.

Vincent Egan, ‘n herpatoloog en inwoner van Haenertsburg, sê boorde of wingerde in die omgewing is ‘n gunsteling blyplek vir die klein reptiele vanweë die mikro-besproeiing, die wegkruipplek wat die bome bied en die bye wat hulle lok.

Die Wolkberg dwergverkleurmannetjie (Bradypodion transvaalense) is een van 17 dwergverkleurmannetjie spesies wat endemies is aan Suid-Afrika.

Herpatoloë is van mening dat daar nog baie onontdekte dwerg verkleurmannetjiespesies in Suid Afrika is.

Volwasse dwergverkleurmannetjies word 45-100mm lank, stert uitgesluit.

Die Wolkberg spesie word 45mm100mm lank (stert uitgesluit) en kom voor in die natuurlike woude, valleie en graslande van Limpopo, Mpumalanga en KwaZuluNatal.

‘n Studie wat in 2009 gedoen is het hulle getalle op 12 000 geskat.

CITES lys die Wolkberg dwergverkleurmannetjie se status onder die minste bedreigde spesies.

Die 2009 studie het egter gevind dat hierdie status heel moontlik in die toekoms gaan verander a.g.v. die impak wat klimaatsverandering op die verkleurmannetjies se habitat gaan hê.

Die ondersoek het gevind dat die Wolkberg verkleurmannetjie se klimaatsone met 40% gaan krimp indien die aarde 4°C warmer word.

Behalwe vir ‘n ineenkrimping reken die navorsers dat die klimaatsone suidwaards, heeltemal uit Limpopo, gaan skuif.

Dit is onwaarskynlik dat die verkleurmannetjies vinnig genoeg sal kan migreer om by te bly.

Volgens Vincent kan groepe verkleurmannetjies in die proses afgesny word van die res van die populasie.

Dit sal tot ‘n beperkde genepoel en uiteindelike uitsterwing van die geïsoleerde groepe lei.

Klimaatsveranderingkenners reken dat die aarde se gemiddelde temperatuur met 4°C teen so vroeg as 2064 en so laat as 2095 gaan styg tensy daar drastiese stappe geneem word om die mens se bydrae tot aardverwarming in te perk.

Pieter Vorster van die Mahela Groep sê dat boere ‘n bydrae kan lewer tot die beskerming van verkleurmannetjies deur ‘n geïntegreerde benadering tot pesbeheer te volg.

Dit behels onder andere die loslating van natuurlike predatore en die bewaring of hervestiging van natuurlike plantegroei waar die verkleurmannetjies en hulle voedselbronne kan oorleef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button