Local newsNews

Talle gerugte na hotel van miljoene afbrand

TZANEEN - Die verlate, multi-miljoenrand reënkoning se hotel in Modjadjiskraal, wat gedeeltelik befonds is na bemiddeling deur wyle Nelson Mandela, is verlede Woensdag in ‘n vlammehel verwoes.

Die brand het vroeg verlede Woensdagmiddag 19 September uitgebreek.

Die Letaba Fire Protection Asociation (LFPA), die Mopani brandweer, twee helikopters en een spotter was deel van die brandbestrydings-span.
LETABA HERALD het die toneel Donderdag besoek.

Die hotel is totaal-en-al verwoes. Gegewe die ligging en asemrowende uitsigte, is dit onverklaarbaar dat die witolifant sedert 2009 nooit operasioneel was nie.

“Daardie hotel het een van die mooiste uitsigte in ons omgewing, mooier as Kings Walden en Coach House gekombineerd,” het ‘n bekende plaaslike lodge eienaar aan die HERALD gesê.

Die lodge eienaar vertel dat hulle destyds aangedui het dat hulle bereid was om dit namens die koningshuis te bestuur.

GALLERY: Reënkoninging Modjadji V Hotel verwoes in vlammehel

“So 12 jaar gelede kon ons al ‘n bydrae gelewer het. Daar is so baie geld daar ingepomp. Ons het gaan kyk aan die begin en aan die einde toe daar eintlik niks oor was nie. Wie neem verantwoordelikheid vir die miljoene wat daar ingeprop is? Dit kon so mooi plek wees met die regte bestuur. Maar niemand wou ooit verantwoordelikheid vat volgens dit wat ons kon verstaan nie, en dit is hartseer,” het die eienaar aan die HERALD gesê.

Die hotel is op 17 April 2009 amptelik tydens ‘n seremonie oorhandig aan reënkoningin Modjadji V deur die toe adjunk minister van omgewing en toerisme, Rejoice Mabudafhasi.

Die skade aan die struktuur na die brand is enorm en die meeste grasdakstrukture is totaal vernietig.

Die omgewing is erg toegegroei.

Dit het ook brandbestryding bemoeilik, is aan die die HERALD vertel.

Die Herald het destyds in 2009 die amptelike opening bygewoon.

Die hotel, in die Lebyeng bergreeks, is sowat 1km geleë van die Modjadji paleis en ‘n klipgooi van die bekende Modjadji natuurreservaat.

Die hotel is gebou teen ‘n koste van R13miljoen.

‘n Gedeelte van die fondse is, na wat verneem word, deur toe president Nelson Mandela bemiddel as ‘n geskenk na ‘n besoek aan die reënkoninging.

Konstruksie het aanvanklik in 2002 begin, maar is vertraag na ‘n geskil tussen die Modjadji koningshuis en ‘n senior lid van die Balodedu Gemeenskaps Trust, Mathole Motshekga, na bewerings van finansiële wanbestuur gedurende die konstruksie proses.

Die hotel het bestaan uit 12 luukse chalets, ‘n mini konferensie sentrum, parkeer en braai fasiliteite en ‘n swembad.

Nege hoofmanne binne in die Groter Letaba Munisipaliteit, almal afstammelinge van die Balobedu Koningskap, sou glo tantiemes geniet wat uit die hotel genereer word.

Die hoofmanne het ook destyds ‘n oordrag ooreenkoms geteken dat hulle die hotel onder kuratorskap van die Groter Letaba Munisipaliteit plaas todat die geskille opgelos sou wees.

Ironies genoeg het die toe burgermeester van die munisipaliteit, Joshua Matlou gesê, dat die hotel bestuur sou word deur goed opgeleide persone wat hoofsaaklik gewerf sou word uit die jeug vanuit die jursidiksie van die munisipaliteit.

Na wat verneem word het die hotel sedert sy opening destyds nie ‘n enkele gas gehuisves nie, en het dit onder vandale deurgeloop en is rot-en-kaal besteel.

“Ons glo dat die hotel groot sukses sal behaal en ‘n fenominale sukses sal wees,” het Mabudafhasi destyds tydens die opening gesê.

Die HERALD verneem vertroulik dat onmin steeds heers binne in die koningshuis rondom heerskappy.

Brandstigting is op baie se lippe, en gerugte dat versekeringsbedrog nie uitgesluit kan word nie terwyl bewerings van wanbestuur en voortdurende geskille in die koningshuis die ronde doen.

“Ek sou by versekeringsmaatskappye uitvis of daar ‘n eis is. Hierdie is vir my ‘n geval van ‘the plot thickens’ en ek vermoed versekeringsbedrog. Is daar nie moontlik nuwe projekte wat die ‘eienaars’ van die hotel aangepak het en nou so ietsie ekstra kontant benodig nie? Ek sê nie dit is so nie, ek vra maar net,” het ‘n bron in die eiendomsmark en oud-inwoner aan die Herald gesê.

Dit steeds onduidelik of die hotel nog onder die kuratorskap van die Groter Letaba Munisipaliteit val.

Dit is uiters teleurstellend dat ‘n hotel van die omvang, wat tot ‘n groot toerisme en ekonomiese inspuiting vir ons omgewing kon lei, verwoes is.
Ten koste van mijoene, werkskepping en om nalatenskap te eerbiedig van Modjadji V!

Related Articles

Back to top button