Local newsNews

TZANEEN: Bekende plaaslike boer wen stryd teen onteiening

Kort voor die Paasnaweek is kennisgewing van onteiening aan Akkerland Boerdery, eienaars van die plase Lukin en Salaita agter die Soutpansberg, bedien.

‘n Bekende Tzaneense boer het die regering bloedneus gegee in die Staat se poging om die eerste plase in die geskiedenis van Suid-Afrika sonder billike vergoeding te onteien.

Kort voor die Paasnaweek is kennisgewing van onteiening aan Akkerland Boerdery, eienaars van die plase Lukin en Salaita agter die Soutpansberg, bedien.

Die eienaars van Akkerland Boerdery is Johan Steenkamp, bekende Tzaneense avo-boer en sy vennoot, Arnold Cloete.

Johan Steenkamp, bekende avo-boer en
stigter van die destydse Peppadew in Suid-Afrika.

Die beplande onteiening het baie wye reaksie in alle vorms van die media ontlok – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Akkereland Boerdery het ook onmiddellik met regstappe begin om die onteiening te beveg en landbouorganisasies soos die Transvaalse Landbou-unie (TLU) en Agri SA het hulle agter Akkerland geskaar.

Lees: Plaaslike boer veg teen onteiening

In ‘n skielike ommeswaai het die Regering vandeesweek aangekondig dat hulle die kennisgewing van onteiening terugtrek en dat hulle Akkerland se regskoste om die geding te beveg gedeeltelik sal betaal.

Die LETABA HERALD het enkele weke gelede oor die beplande onteiening na ‘n ekslusiewe onderhoud met Steenkamp berig.

Die HERALD het, na betroubare inligting, in die berig ook gesê dat grondhervorming nie die doel van die onteiening is nie, maar eerder die verryking van ‘n mynmaatskappy, Coal of Africa, wat al jare probeer om ‘n groot steenkoolmyn in die omgewing te vestig. Sedertdien het President Cyril Ramaphosa aangekondig dat Sjina miljarde dollar in Suid-Afrika gaan belê as deel van ‘n groot steenkool kragstasie en ekonomiese groeipunt agter die Soutpansberg.

“Hoewel die Regering die aksie vir onteiening gestaak het, is ons steeds in ‘n fel regstryd gewikkel om onwettige grondeise teen Akkerland Boerdery te beveg,” het Steenkamp aan die HERALD gesê.

Daar is tans twee grondeise teen Akkerland geregistreer in direkte konflik met mekaar.

Intussen kan die HERALD ook bekend maak dat Steenkamp en sy vennoot Coal of Africa se mineraal- en waterregte opponeer en dit in die hof gaan beveg. Daar is klaarblyklike ongerymdhede in die proses en Akkerland se regspan hoop om dit uit te wys en Coal of Africa in sy spore te stuit.

Om Akkerkand Boerdery by te staan in hul regstryd teen die grondeisers, Coal of Africa en die Staat, bestuur die TLU ‘n trustrekening wat sal help om regsksoste te delg.

Daar word ‘n beroep op individue en instansies, wat Akkerland in die stryd steun, gedoen om tot die fonds by te dra. Die rekening is by Absa en die nommer is 9343268401, bankkode 632-005.

Related Articles

Back to top button