Local newsNews

TZANEEN: Huis erg beskadig na brandstigting

'n Huis is erg beskadig nadat ‘n veldbrand uitgebreek het en die hulp van helikopters ingeroep moes word om dit onder beheer te kry.

Sondagoggend 2 September omstreeks 10:30 het ‘n veldbrand volgens Jaco Rautenbach van die LFPA op ‘n “onnatuurlike wyse ontstaan” op die gronde van die munisipaliteit net regs van die Agatha AB pad.

Wat begin het as ‘n ligte brand, het kort na 12:00 in ‘n nagmerrie ontaard toe die wind sterk begin waai het en die vuur gedryf het in die rigting van vyf woonhuise op die ABQ afdraaipad.

Die Letaba Fire Protection Assosiation (LFPA) personeel wat op die toneel was en die brand beveg het, het twee van hulle helikopters wat by hulle basis op Westfalia gestasioneer was se dienste ingeroep en die omgewing om die huise is nat gegooi. “Die poging was suksesvol en slegs een van die huise, wat aan Pepe Lemantour behoort, het skade opgedoen nadat die wind ‘n brandende tak op die grasdak van die woning gewaai het,” het Rautenbach gesê.

Die inwoners het blits vinnig die huis ontruim en niemand is in die voorval beseer nie. Die wind het die vuur voortgedryf in die rigting van die aangrensende Merensky Holdings Bloekomplantasies wat op die Summerhillpad geleë is.

Gelukkig is daarin geslaag om die brand te keer voordat die plantasies aan die brand geraak het, maar nie voordat ‘n paar van die Pusela plotte deurgeloop het nie. Ongeveer 20 hektaar in totaal is afgebrand. Die organisasie se verkenningsvliegtuig was ook in die lug om die moontlike verdere verspreiding van die brand dop te hou.

Die LFPA wat ‘n nie-winsgewende organisasie is, rig ‘n persoonlike versoek aan die boere van die omgewing om by hulle aan te sluit.

Voordele wat hieruit kan spruit is ondermeer die volgende: Inligting mbt brande is aan lede beskikbaar aangesien rekord van alle brande gehou word.

Die korrekte standaarde van brandbane word voorsien. In die geval van die uitbreek van ‘n brand sal ‘n lid voorkeur geniet mbt die bestryding daarvan.

Rautenbach het aan LETABA HERALD vertel dat aansienlik meer brande hierdie jaar aangeteken is in vergeleke met 2017 vanweë die droogte toestande.

In die geval van waar ‘n woonhuis of geboue deur ‘n brand bedreig word, is sy raad om die geboue nat te spuit en nat te hou. Hy versoek boere om asseblief hulle brandbestrydings toerusting na te gaan en seker te maak dat dit in goeie werkende toestand is. Persone wat belangstel om aan te sluit kan vir Maritsa Swanepoel skakel by 076 550 2260 vir meer besonderhede.

Related Articles

Back to top button