NewsSchool sportSchoolsSport

Agri-Merensky maak stem dik by ALFA

Die Plasiespan se blou bloed het behoorlik geborrel toe hul tydens die gala-funksie vereer is as die tweede beste ALFA-landbouskool vir 2017.

Vanaf 11 tot 14 September het sewe Agri-Merensky leerders, twee Pin2Zyl-verse en vier slagosse van Hoërskool Merensky die jaarlikse ALFA Ekspo by die Afridome te Parys (OVS) vir die eerste keer bygewoon.

Om die span te ondersteun het die skoolhoof, Magnus Steyn, die bemarkingshoof, Louis du Preez, asook twee landbouleerkragte, Arno Last en Jan Potgieter, ook die geleentheid bygewoon.

Hierdie skou, wat sy ontstaan in 2016 gehad het, se oogmerk is jeugontwikkeling, kleinvee en interras kampioenskappe, veilings, uitstallings en groepsbesprekings.

’n Landboujeugfokus is een van die vier pilare waarop ALFA 2017 gestaan het. Die doel van dié program was om onder meer die jeug aan die landbou in praktyk bloot te stel en die landbouers van môre deel van die landbougemeenskap te maak.

Dit het 12 landbouskole (Merensky, Kroonstad, Bekker, Middelburg, Wagpos, Reitz, Morgenzon, Reedersburg, Balfour, Western College, Unicorn en Stella) die geleentheid gegee om hulself teen ander te meet en lekker kompetisie te hou.

Dié kompetisie, met verskeie onderafdelings, het vir baie opwinding gesorg. Altesaam tien kompetisies het deel van dié uitdaging gevorm waarvan drie verpligtend was.

Elke skool moes aan die FNB landbouskole-uitstalling, Veeplaas-vasvrakompetisie en Voermol en Konsortium-Merino se jeugskoue deelneem. Merensky het ook aan die ALFA sweepslaankompetisie, die Obaro junior slagoskompetisie en die Sernick junior karkaskompetisie deelgeneem.

Die Plasies het behoorlik koning gekraai met ‘n eerste- (Dominique Blandin D. Chalain) en derdeplek (Iszabella le Roux) in die senior beeste skoumanskap kompetisie.

Luandi Visagie het ‘n tweedeplek opgeraap in die junior beeste skoumanskap afdeling. Stefan Corbett het homself as sweepslaanmeester bewys toe hy met dié gewilde prys weggestap het.

Stefan het ook namens die skool die prys ontvang vir die beste uitstalling.

Related Articles

Back to top button