Local newsNews

Bane die basterbrak veg nou stropers vanuit ‘n helikopter

HOEDSPRUIT: Bane, die basterhond is nie sommer enige basterbrak nie, maar ‘n vierpotige held in die oorlog teen renosterstropery!

En hy het boonop Donderdag, 24 Augustus ‘gradeer.’

By Protrack, ‘n anti-stroop organisasie buite Hoedspruit het Bane en sy hanteerder, Sersant Chrisjan Visser (27), vanuit ‘n helikopter anti-stroop similasies gedoen waar hulle vanuit die lug geoefen het om stropers af te weer.

Bane en Chrisjan besig met hulle opleiding.

Chrisjan se eerste ontmoeting met Bane was ongeveer drie jaar gelede in Bela-Bela.

Die antistroop organisasie waar by hy betrokke is het ‘n nuwe area daar oorgeneem.

Bane se mond water vir ‘n aanval.

Daar is Bane verwaarloos en verlate gevind in die operasionele huis.

“Hy was nie in ‘n goeie kondisie nie. Hy was oortrek met myte en vlooie. Ek het hom begin versorg en aand vir aand vlooie van hom afgetrek. En ek het besluit om hom aan te neem,” vertel Chrisjan.

Bane vat ‘n blaaskans.

Visser wou by graag die SAP se K9 honde-eenheid aansluit. Maar weens persoonlike redes het hy by die antistroop organisasie in Hoedspruit aangesluit en opleiding saam met Bane het volstoom begin. Bane, wat nou 4 jaar oud is, het sy opleiding in byt werk begin. Hy is by uitstek ‘n patrollie en reddingshond.

“Hy vang basies stropers wat probeer weghol. Hy is nie ‘n spoorsny hond nie. Hy is opgelei om te byt en vas te hou,” vertel Visser tydens die onderhoud terwyl Bane rustig links van sy voete lê na die opwindende oggend. As sy halsband af is, weet Bane hy kan ontspan.

Wat hoor ek? Ek is reg!

Bane het sy naam gekry na ‘n karakter in ‘n Batman film.

Bane tydens sy tweede oefening. Hy geniet elke oomblik en kan nie wag om in die helikopter te kom nie.

“Sy naam was Bronx of Bruno. Ons het net een film op ons skootrekenaar in Bela Bela gehad. Die skurk in die film se naam, is Bane. Ek het net daar besluit. Nuwe naam, nuwe hond en nuwe lewe.” Bane kan ook met trots een goue ster agter sy naam met ‘n poot afstempel. Hy was al betrokke by die suksesvolle inhegtenisneming van stropers.

“Ons doen eintlik patrolliewerk vanuit ‘n voertuig. Maar ek en Bane het nou die kursus na drie maande om vanuit ‘n helikopter te werk om stropers vas te trek, vandag voltooi. Die opleiding het ons gedoen deur Paramount militer, wat spesialiseer in die tipe opleiding.” Wat Donderdag se opleiding uniek maak, is dat Chrisjan met sy hondevriend persoonlik die opleiding kon doen.

Ek maak nie seer nie. Regtig nie.

“Gewoonlik gebruik hulle hulle eie honde. As Bane die helikopeter sien begin hy blaf van opgewondenheid, dan weet hy die aksie wag.”  En Bane is ‘n gedissiplineerde hond.

Tyd vir ‘n foto sessie na die opleiding.

“Hy is nie net ‘n werkshond nie, maar ook my persoonlike vriend,” sê Visser.

Bane saam Chrisjan op vakansie iewers in Suid Afrika.

Volgens Visser het hy baie mense verkeerd bewys dat dit slegs werkshonde soos Alsations, Malinois, Doberman en Rottweilers is wat so opgelei kan word.

Bane hou van ‘n uitsig.

Bane het ook al in ‘n bytwerk-kompetisie in die Kaap ‘n 2de plek gekry tussen opregte werkshonde. En met ‘n mengsel van Premium hondekos en maalvleis word Bane getroos.

“Bane blaf nie vir niks nie. Hy kan enige iets deur mure hoor. Maar hy blaf nie sommer nie. Hy begin met ‘n grom. Dan weet ek ek moet ondersoek instel.”

Speeltyd is opleidingstyd.

Die twee is soos kettie en klip. Of sal mens sê soos halsband en leiband. Waar Chrisjan gaan, gaan Bane.

“As ons ‘n plek moet besoek waar diere nie welkom is nie, sal ek ‘n plan maak om hom daar in te kry.”

Dit is wat hulle wil beskerm

Bane het al selfs op ‘n verhoog sy verskyning gemaak by ‘n musiek konsert waar hy bloot op ‘n drafstappie tydens die vertoning ook self langs die hoofsanger homself kordaat sit gemaak het.

Die anti-stroop oorlog in Suid Afrika lê Chrisjan baie na aan die hart.

“Dit gaan oor bewusmaking. Stropery het so algemene tendens geraak asof dat dit eintlik normaal is. Dit gaan vir my om mense bewus te maak en om fondse daarvoor te kry. Om in een week 23 renosters te verloor in Suid Afrika jaag my bloedruk op,” vertel Chrisjan ernstig.

En saam sy basterbrak is hulle reg vir dié ‘oorlog’, met hulle wedersyste respek vir mekaar!  Bane sy ‘kind’, en Chrisjan sy mensevriend.

Saam, soldate teen renosterstopers!

Related Articles

Back to top button