Local newsNews

Elke ‘Deadline’ wag vir dié ‘Magic-water’ in SA

Dit neem een oproep en een foto. Hoeveel boere in Suid Afrika het ook 'n 'Deadline' wat wag vir die 'Magic' water?

Dit is toe my telefoon iriterend langs my op die lessenaar lui en ek nie wil, wou of kon bekostig om die foon te antwoord nie.

Dit was dié oproep en dié foto wat sou volg, wat my siel uitgedroog het.

‘Kan jy ‘n foto kom neem hier op die plaas,’ vra *Selmay aan die ander kant.

‘Ek kan regtig nie nou ‘move’ nie, ek sit op ‘n ‘deadline’. Wat is die storie?’

‘Ag nee jy is seker dan besig, dis maar net die droogte…jy weet,’  hoor ek sy sê, maar ek luister nie.

‘Ek sal die storie later kry, ja dit is droog, luister, oor die foto, wat het jy afgeneem? Ek sê jou wat, WhatsApp vir my die foto dan bel ek later, reg?,’ knip ek die gesprek kort.

‘Is reg…dan maak ek so…sterkte met jou ‘deadline.’

Die keer luister ek, maar ek hoor nie eintlik nie.

Dit was nie lank nie of my slimfoon ‘Ping’ daardie ‘Ping’.

Jy weet mos, daardie ‘notification-ping’

Daar is nie tyd nie, nie nou nie.

Ping in jou ping in foon, ek sit op ‘n ‘deadline.’

Dit was eers heelwat later daardie Dinsdagaand toe ek rustig agteroor sit om na my ‘missed-pings’ te kyk.

Selmay se Ping.

Net die foto.

Soos sy belowe het.

koearant inbed
‘n Foto wat geen woorde nodig het nie…dit spreek vanself!

Woorde ontbreek. Ek slaan toe. Ek staan op en loop ‘n draai. Ek sluk diep en bel Selmay.

‘Selmay, dis ek…dankie…mmm…dankie vir die foto.’

‘Is nie mooi nie nê, maar gedink ek stuur vir jou aan. Jy is mos ons koerant man. Jy kan seker iets skryf, kan jy nie?’ vra sy.

Ek wil vir haar vra, wat skryf ek? Ek wil vir haar sê, ek kan my bronne skakel en statistieke kry oor die droogte.

Ek wil vir haar sê, kom ons almal luister na die weervoorspellings.

Ek wil vir haar sê, ek kan oor die ‘hoop-van-reën-dalk-more’ skryf.

Ek kan oor jaar reënvalsyfers skryf en invalshoeke kry van hierdie of daardie kant af.

Maar dié foto…

‘Selmay, ek sien jou more, op die plaas, reg so?’ vra ek.

‘Is reg. O, koerantman, ek wou nog sê, ek dink die blouwildebeeste gaan self aboteer, sien jou more’

Woensdagoggend vroeg stop ek op die plaas. So 35km buite Tzaneen.

Daar is nie eintlik woorde tussen ons nie.

‘Dit was maar net ‘n ‘random’ foto wat ek vir jou wou stuur. Wou nie vir jou werk maak nie. Die zebra het dit toe nie gemaak nie. Diere vrek op strepe,’ vertel sy terwyl sy oor die slap heining hang-lê.

Ek het nie vra nie. Ek is stom.

'n PLaas net buite Tzaneens wat ook smag na water.
Die plaas net buite Tzaneen wat ook smag na water.

‘Ons lê hierdie heining pap en kyk maar net na Bo.’

Ek skryf die Bo in ‘n hoofletter want ek weet wat sy bedoel.

Maar ek weet sy kyk ook op na bo, doer ver in die die horison se rigting na bo. Dalk ‘n wolkie aan die opsteek.

‘Het jou mos gesê die wildebeeste aboteer. Ek is nie baie slim nie, maar die vroulike geslagte aboteer nou fetuse omdat hulle self nie in staat is om genoeg kos te kry nie, en weet bonatuurlik, dat hulle en die kalf sal doodgaan as sy nou nog een in die lewe sal moet bring. As die koei nie eet nie, het sy niks om mee melk te produseer nie. Maar dis wat ek dink. Op die ou einde, is dit n bo-natuurlike ding wat gebeur, dalk die natuur se genadedood…..  Dalk moet jy eerder raad raad kry by ‘n veearts?

Ek vra seker die domste vraag in my lewe…

‘Het die Zebra ‘n naam gehad?’

‘Nee. My man het hom verlede week in die veld gekry waar hy net gelê het. Daar is water in die dammetjies orals op die plaas wat met boorgate vol gepomp word. Dit is nie ‘n tekort aan drink-water nie. Hulle word al gevoer vir die laaste 3 maande. Ek persoonlik dink diere kry nie genoeg voedingstowwe in wat hulle in “normale natuurlike vars gras” kry nie en daarom is die voer nie voldoende nie…..,’ en soos wat sy praat gly my pen nat oor die papier en my my slimfoon neem rustig haar woorde op.

‘My hart is seer, dis hartseer om die diere so maer te sien en karkasse wat die oorlewing stryd verloor het. Vir ons hier ver, beteken die dorp se water besparings niks. Ons kry nie ons water van die dorp af nie, ja ons almal moet water spaarsamig gebruik, maar dit sit nie die water onmiddelik terug in die veld nie. Daar is boorgate wat damme vol pomp, daai water beteken niks. Behalwe die water van Bo. God se ‘Magic water.’ Wat oornag alles groen maak. Wat die bokke in die veld regtig…nuwe lewe gee…..laat hulle sommer bokspring. Ons kort net van daai ‘Magic Water.”

Selmay gesels en gesels. Vertel my alles….alles wat ons weet. Dat ons nie in beheer is van die reën nie. Dat sy as mens benoud raak. Dat, wat as. Wat as die water vir ewig wegbly….

‘Dis skrikwekkend om so daaroor te dink nê? Wat as?’ vra sy my.

Ek groet. Want die wie-wat-waar-waneer en hoe se vrae is nie nodig nie.

‘Ja, skryf maar wat jy dink is goed, jy het seker darem tyd voor jou volgende deadline. Jy kan dalk bysit…mense moet maar voer plek maak vir voëltjies ook, brood krummels en  iewers ‘n ou bakkie water sit.’

‘Ek maak so Selmay…”

Op die passasiers sitplek, lê my botteltjie water. ‘n Soortgelyke een waarmee die zebra sy laaste bietjie water gevoer is. Soos ‘n baba. Gespeen met water.

En ek gee net daar vir die zebra ‘n naam.

‘Deadline. Ou-Deadline.’

My botteltjie met water gevul  is maar 500ml. Al warm van in die motor lê.

My oog vang die handelsmerk in kursief en die laaste deel by my bly…’Quench your thirst.’

Hoeveel boere het ook ‘n trop of kudde ‘Deadlines’ wat wag vir daai ‘Quench’

Ek sien in die tru-speeiltjie deur die stofwollke hoe Selmay weer oor die slap draad hang.

Sy kyk na Bo.

In die ry soek ek die botteltjie warm water, ‘to quench my thirst’ en druk per ongeluk op my selfoon, en soos wat ek die plaas verlaat, hoor ek Selmay se stem…

‘…Al wat ek weet, is enige en alle boerderye is Genade van Bo. Dammetjies vol water beteken niks sonder daai ‘Magic’ Water nie.’

By die huis is ek steeds stil.

Ek sien die voëlbak is half met water.

Stap kombuis toe en neem twee snye brood.

Stap uit en gaan staan langs die bak op die droë gras.

Neem die twee stukke brood in my hande saam in gebed. Begin die brood krummel. Kyk soos Selmay na Bo en doen ‘n Paternoster.

‘n Paternoster vir elke ‘ou-Deadline’.

Vir elke boer op elke plaas.

‘n Paternoster vir daardie ‘Magic’ water van Bo.

'n Rooibok karkas op 'n wildsplaas in Gravelotte.
‘n Rooibok karkas op ‘n wildsplaas in Gravelotte.

Lees ook:

Die GROOT reën kom ‘glo’ na more…

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button