Local newsNews

Indiensnemings styg landwyd

Tzaneen en omgewing se boere is, soos hul kollegas landwyd, toenemend onder druk om te oorleef die laaste paar jaar.

As dit nie arbeid kwessies is nie, slaan die droogte boere jaarliks met ‘n harde vuis in die maag. Juis daarom is die landswye styging van landbou-indiensneming sulke goeie nuus.

Volgens ‘n mediavrystelling van Agri Limpopo het hulle kennis geneem van die Statistiekdiens se syfers wat toon dat landbou-indiensneming gestyg het in die eerste kwartaal van 2016, terwyl die nasionale werkloosheidsyfer vir dieselfde periode met 2% gestyg het.

Pieter Vorster, voorsitter van Agri Limpopo se Arbeidskomitee, het daarop gewys dat die regering, die departement van Arbeid en die algemene publiek hiervan kennis moet neem.

“Landbouers gaan gebukkend onder ‘n ongekende droogte, ondervind finansiële druk en staar ‘n onseker ekonomiese toekoms in die gesig.

Maar ten spyte hiervan hou hulle mense in diens en neem selfs meer in diens. Gesien teen die agtergrond van onlangs verhoogde minimum lone, moet dit as bewys dien dat die landbou ernstig is om armoede en werkloosheid te help beveg” het Vorster gesê.

In sy reaksie het Leon Borcherds, president van Agri Limpopo gesê: “Dit is jammer dat boere uitgesonder word vir ongegronde kritiek oor arbeidskwessies en meermale die teikens is van kwaadwillige uitlatings vanaf verhoë.

Hierdie syfers beklemtoon boere se toewyding aan die nasionale doelwitte van werkloosheidverligting en opheffing van armoede”. “Ek hoop ons kritici neem kennis hiervan.

Die feit dat landbou indiensneming wel laer is as ‘n jaar gelede, dui egter op die kwesbaarheid van die sektor vir ‘n swak ekonomiese omgewing” het Borcherds bygevoeg.

Agri Limpopo moedig landbouers aan om vol te hou met hul positiewe bena-dering ten opsigte van arbeidsake.

Landbouers stel ‘n voorbeeld aan verskeie sektore van die ekonomie as dit kom by die versorging van werknemers.

Navrae:

Leon Borcherds – President Agri Limpopo – 082 378 4621

Pieter Vorster – Vise President Agri Limpopo – 083 259 5511

Willem van Jaarsveld – HUB Agri Limpopo – 082 451 7913

Related Articles

Back to top button