Boeredag in Tzaneen ‘n groot sukses

Hoewel boere die geleentheid met gemengde gevoelens verlaat het, was ABSA se boeredag verlede week by Tzaneen Country Lodge steeds 'n sukses.

Nico le Roux van ABSA het die dag geopen en die boere bedank vir hul bywoning. “ABSA ken die landbou en hierdie kennis veroorsaak dat ons as bank die boere beter en meer ingeligde diens kan gee,” het Le Roux onder andere gesê.

Die eerste spreker aan die woord was prof. Willem Landman, ‘n meteoroloog met drie dekades se ervaring.

Landman het tydens sy praatjie meestal gefokus op die huidige droogte toestande landwyd asook op El Nino en die verwagte uitwerking daarvan op Suid-Afrika se klimaat.

Sy praatjie was gewis nie goeie nuus vir die boere nie en sy voorspellings is hier en daar met ‘n hoorbare sug begroet. Inwoners van die streek kan, volgens Landman, hulle regmaak vir ‘n lang droë somer met min reën.

Die El Nino wat ons tans ervaar is nog in ‘n redelike begin stadium, maar volgens Landman reeds vergelykbaar met die sterkste een op rekord wat in 1997 plaasgevind het. Boere wat graag self met Landman in kontak wil kom kan hom gerus kontak by walandman1981@gmail.com vir meer inligting aangaande El Nino of selfs as hul sy weervoorspellings direk via e-pos wil ontvang.

Alwyn Small van John Deere was volgende aan die woord.

Hy het met boere gesels oor die spesiale aanbiedinge wat John Deere tans die landbou wêreld bied. Ook toekomstige produkte van John Deere is aan boere via video gedemonstreer. Lesers wat self wil gaan loer kan gerus op Youtube by Johndeere.com/farmsight ‘n draai gaan maak.

Die hoofspreker van die dag was die ekonoom Ernst Janovsky, bekend vir sy ekonomiese modelle. Janovsky het boere weer bietjie moed ingepraat.

“Moenie skrik vir weer of politiek nie. Dis nou die tyd om in die landbou te belê,” het Janovsky gesê. Sy praatjie het wyd gestrek en boere het aan sy lippe gehang. Lesers en boere wat graag meer van die ekonomiese kant van landbou te wete wil kom is welkom om Janovsky direk te kontak via e-pos by ernst.janovsky@absamail.co.za.

Na afloop van die praatjies het die gaste heerlik gesmul aan die middagete wat Tzaneen Country Lodge aangebied het.

Related Articles

Back to top button