Local sportSport

Bass Kampioenskap ‘n groot sukses

Die Nasionale Amateur Assosiasie Bass Kampioenskappe is verlede week by die Tzaneendam gehou.

Hoopvolle vissermanne het lang dae van warm son en harde werk trotseer en tog ‘n suksesvolle week gehad.

Hierdie kompetisie is die belangrikste kompetisie van die jaar waarin enige persoon vir Protea kleure kan kwalifiseer en is ook ‘n prestige geleentheid vir die streek wat dit aanbied.

Verlede jaar het die bassvangers van Natal ‘n hoë standaard gestel en die plaaslike organiseerders kan na afloop van hierdie week tevrede voel met wat hulle in ‘n baie kort tydjie vermag het.

Volgens Wayne Kurten, een van die organiseerders, het hulle op 4 Julie met baie kort kennisgewing die reëlings begin tref.

Almal by die prysuitdeling was dit egter eens dat die luisterryke geleentheid almal se verwagtinge oortref het.

Die top vyf individuele vissermanne in volgorde van prestasie was:

In die eerste plek, Adrian Luff van die Oostelike Afdeling met ‘n totaal van 23.720 punte.

In die tweede plek Justy Varkevisser van die Suidelike Afdeling met ‘n totaal van 23.600 punte.

In die derde plek was Charlon Hewitt ook van die Suidelike Afdeling met ‘n totaal van 23.295 punte.

In die vierde plek was Richard Eldridge van die Oostelike Afdeling met ‘n totaal van 23.285 punte.

In die vyfde plek was Pierre van der Merwe van die Westelike Afdeling met 22.765 punte.

In die Afdelingskompetisie was dit die Suidelike Afdeling wat uiteindelik met die louere weg gestap het, met die Noordelike Afdeling in die tweede plek, die Westelike Afdeling in die derde plek, Natal in die vierde plek en die Oostelike Afdeling in die vyfde plek.

Die meegaande foto is geneem en verskaf deur André van den Heever van Celsus Imago, die amptelike fotograaf van die toernooi.

Die res van sy foto’s is via celsusimago.co.za beskikbaar.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button