Local news

Kankerlyertjie inspireer neef

Die neef van ‘n Tzaneense kankerlyertjie wat in Engeland woon gaan die Londen-marathon hardloop om geld in te samel vir CHOC (Childhood Cancer Foundation).

Dillen McGaffin, Tyler McGaffin (8), ‘n graad 2-leerder by Unicorn Preparatory, se neef het reeds 690 pond van die 1000 pond ingesamel op Givengain, ‘n Suid-Afrikaanse platform vir die insameling van geld vir liefdadigheid. Simoné, Tyler se ma, het verlede jaar aan die Herald vertel dat Tyler in Julie 2020 tydens die covid-19-ramptoestand met leukemie gediagnoseer is. “Ek onthou goed hoe ons dringend toestemming moes kry om met hom in ‘n ambulans na die Unitas-hospitaal in Pretoria te jaag, die paaie was tjoepstil,” het Simoné verlede jaar aan die Herald vertel.

Tyler is onder die sorg van twee pediatriese onkoloë geplaas en het onmiddellik met intensiewe chemoterapie begin. “Hy het deur ‘n baie moeilike tyd gegaan. Hulle noem dit die tyd van die rooi chemo,” het sy gesê. Tyler het gelukkig goed gereageer op die behandeling. “Wanneer jy in die diep kant ingegooi word, het jy nie ‘n keuse nie. Jy moet net vorentoe, jy doen alles vir jou kind.” In Januarie 2021 het Tyler die intensiewe chemoterapie-behandeling voltooi. “Daarna het ons huis toe gekom en met sy onderhoudsprogram van drie jaar begin.

Also read: Tzaneense kankerlyertjie inspireer fondsinsameling

“Hy gaan elke maand vir bloedtoetse, kry een keer per maand chemo en ons doen elke drie maande ‘n spinale tap. Hy drink ook elke dag ‘n chemo-pilletjie.” Van die drie jaar onderhoudprogram is daar nog vyf maande oor, het Simoné die week gesê.

‘Tyler is my held’ – Dillen McGaffin skryf:

Dillen McGaffin saam met sy vrou, Kayla en seun, Cooper.

Net meer as drie jaar gelede is ons dapper klein vegtertjie en neef, Tyler McGaffin, met leukemie gediagnoseer. As gevolg van sy onwrikbare dapperheid, vasberadenheid en moed, tesame met sy ongelooflike ondersteuningstelsel en sy wonderlike mediese span, is Tyler tans in die onderhoud-herstelstadium van sy behandeling. Ongelukkig is daar baie kinders wat nie toegang tot dieselfde ondersteuning of finansiële hulp het nie. CHOC is ‘n nie-winsgewende organisasie wat hom beywer vir die gesondheid en welstand van kinders en tieners wat met kanker of lewensgevaarlike bloedafwykings gediagnoseer is en hul gesinne.

Also read: Reinhardt lui die klok vir laaste chemosessie

CHOC bied praktiese ondersteuning aan pasiënte en gesinne, insluitend noodsaaklike sorgsakke, kos, rouondersteuning, verblyf, vervoer na en van behandelings en opvoedkundige en bewusmakingsprogramme oor die vroeë waarskuwingstekens van kinderkanker. Tyler is ‘n klein held, maar so is alle kinders wat teen kanker veg en daarom lê hierdie liefdadigheidsorganisasie my so na aan die hart. Ek het besluit om die Londenmarathon op 23 April te hardloop om geld vir hierdie saak in te samel. As jy wil skenk en my wil help om geld vir CHOC in te samel, gaan na www.givengain.com/ap/dillenmcgaffin-raising-funds-for-chocchildhood-cancer-foundation-sa

Related Articles

 
Back to top button