Local newsNews

Inwoners gryp in toe inheemse bome platgestoot word

Uitbreiding vs die behoud van inheemse plantegroei het verlede Saterdag teen mekaar te staan gekom toe ‘n groep inwoners van Modjadjiskloof gevra het dat ontwikkeling gestaak moet word tot en met die bome se toekoms uitgeklaar is.

Inwoners van Panorama in Modadjiskloof was Saterdagoggend boos toe beskermde inheemse boomspesies deur die Groter Letaba Munisipaliteit (GLM) platgestoot is.

‘n Bekommerde inwoner het Hennie le Roux, wat plaaslike inheemse boomspesies goed genoeg ken om dit te identifiseer, geskakel om te help ingryp toe hulle sien dat swaar masjienerie in die area werk. Le Roux vertel: “Die inwoners het my geskakel om die beskermde inheemse plantegroei uit te wys. Toe ons eers bevestig het dat daar vier beskermde spesies groei, het ons aangedring dat die bestuurder van die voertuig werk staak en die GLM se amptenare is gekontak.”

Die swaar masjienerie is Sondag verwyder.

Ongeveer tien inwoners van Panorama het vinnig saamgespan om van die beskermde bome met linte te merk en het ook die Groen Skerpioene gekontak in hulle pogings om die bome te beskerm. Volgens Le Roux is daar kiaatbome, boesmanteebosse, appelblaarbome en kasuurbome wat in die area groei. Die bedreigde bome groei op erwe wat glo verlede week as te koop geadverteer is in die Mopani News-koerant as deel van uitbreiding 11.

Die twintig erwe wat op 14 Julie geadverteer is, is volgens die advertensie op 11 Julie in die mark gesit en pryse wissel van R225 per m² tot R320 per m². Per erf wissel pryse van R360 000 tot R663 040, elk.

Die munisipale bestuurder, Florah Makgabe, direkteur vir ontwikkeling en dorpsbeplanning, Obed Sewape, en ander verteenwoordigers van die GLM het die inwoners se kommernisse aangehoor en die skoonmaakwerk is gestaak tot die nodige toestemming en lisensies van die department van omgewing, bosbou en visserye gekry kan word om die bome te verwyder volgens die Nasionale Wet op Bosse, 1998 (Wet 84 van 1998).

Lees ook: Residents despair over decay in Modjadjiskloof

Die wet is in Maart 2021 deur minister Barbara Creecy gewysig om ‘n volledige lys van beskermde bome wat tot ‘n spesifieke spesie behoort, in te sluit. Lovers Maenetja, GLM-woordvoerder, sê dat die masjien se operateur nie ordentlik in kennis gestel is voor werk by die beplande uitbreiding begin is nie. “Die klein bosse moet ongelukkig uitgehaal word en groter bome sal behoue by. “Ons besef dat meeste mense in Panorama en kopers dalk die natuurlike element wil behou op die erwe, maar ons kan nie alles behou óf alles skoonmaak nie,” sê Maenetja.

Maenetja het Maandagmiddag aan die Herald gesê dat die kwelpunte tans uitgesorteer word. “In die toekoms sal al hierdie kwelpunte uitgesorteer wees en dit word soos ons hier praat, aangespreek,” het sy gesê. Matome Serumula, DA-raadslid by die GLM sê hy het ‘n brief aan die GLM-speaker geskryf om die ontwikkeling te staak tot en met die saak uitgeklaar kan word. Die Herald sal die verwikkelinge by
uitbreiding 11 opvolg soos dit ontvou.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button