Sport

Vossies vat raak en verdedig puik in KES-rugbytoernooi

Hoërskool Ben Vorster se eersterugbyspan was die afgelope naweek by King Edward VII Skool (KES) se Paastoernooi in aksie.

Hulle eerste wedstryd teen Hoërskool Centurion het die Vossies 22-12 beklink. Afrigter, Reinhard Gerber vertel: “In die wedstryd teen Centurion was die voorspelers dominant. Ons het hulle voor aangevat en mooi drieë gedruk, maar ons het ‘n paar geleenthede gehad in die agterlyn wat ons nie kon afrond nie.”

Jan Dippenaar, Meyer Jacobs en Shaun Matthysen het elkeen ‘n drie gedruk en losskakel, Neo Sephuna het twee drieë vervyf en ‘n strafdoel vir die Vossies tussen die pale deurgestuur. Die Vossies se eerstespan het egter vasgeval teen Hoërskool Eldoraigne, en verloor die kragmeting 33-3. “Die wedstryd teen Eldoraigne was ‘n tawwe een in die reën en in die modder.

Hulle het baie fisies gespeel en die bal van ons af weggehou. “Hulle het elke fout wat ons gemaak het, en daar was nie baie nie, in punte omskep, so hulle het hulle geleenthede goed gebruik in daardie wedstryd,” sê Gerber. Sephuma teken hier hulle enigste punte aan met ‘n strafdoel.

Also read: Vossies trek groot rugby-naam nader

In die laaste wedstryd van die toernooi draf die Vossies teen Hoërskool Nico Malan uit en wen hulle ‘n naelbytstryd met een punt, 19-18. “Die seuns van Nico Malan is groot seuns, fisies groter as ons, maar ons verdediging was fantasties. “Ons het baie minder foute gemaak as teen Eldoraigne en het ons geleenthede gebruik,” vertel Gerber.

In die harde stryd het Jean Meintjies die wen-drie gedruk, ‘n prag-drie onder die pale, en kon losskakel, Sephuma, die drie vervyf vir die Vossies om met een punt te seëvier. Juan Mentjies, Juan-Jacques Joubert en Letogo Sekokolta druk elkeen ‘n drie en Sephuma slaag daarin om twee drieë te vervyf. “Die seisoen het maar stadig begin, maar ons raak elke wedstryd beter en die seuns weet wat ons wil doen. “Ons het die intensiteit en spelpeil baie gelig in hierdie toernooi by KES.

“Die spelers het in die laaste drie wedstryde baie geleer en baie verbeter. Ek is trots en ek sien uit na die res van die seisoen,” sluit Gerber af.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button