Taai brandweermanne laat waai in Denemarke

Plaaslike brandweerdienste se N'zuri-span het onlangs by die Wêreldbrandspele in Denemarke presteer.

Drie spanlede van N’zuri het onlangs aan die World Fire Fighting Games (WFFG) deelgeneem en presteer.

Volgens spanlid Manie Gouws was dit die 15de Spele wat van 7 tot 14 September in Aalborg, Denemarke, plaasgevind het. Volgens hom het meer as 50 lande se brandweermanne en -vroue aan 49 sportkodes deelgeneem wat elke tweede jaar aangebied word.

“Ek, Vincent Naude en Maithamako Moswete het die Wes-Rand by die spele verteenwoordig. Ons is deel van die N’zuri-span wat bestaan uit lede van onder andere die Wes-Rand Distriksmunisipaliteit, Working on Fire en Secure Fire,” het Manie vertel.

Vincent en Maithamako het vanjaar vir die eerste keer aan die spele deelgeneem en uitgeblink.

Die drie spanlede het as volg presteer:

Vincent Naude het in Denemarke gekompeteer.

• Vincent Naude (30 tot 34 ouderdomklas)
Stair run – 28e plek
Toughest Firefighter Alive – 17e plek

Maithamako Moswete wys haar medaljes wat sy in Denemarke gewen het.

• Maithamako Moswete (40 tot 44 ouderdomklas)
Stair run – 4e plek
400m – goud
800m – goud
1500m – goud
Toughest Firefighter Alive, 5e plek

Manie Gous wys sy medaljes wat hy in Denemarke gewen het.

• Manie Gouws (45 tot 49 ouderdomklas)
Stair run – 4e plek
10 000m – silwer
3000m steeple chase – silwer
1500m – brons
800m – silwer
Toughest Firefighter Alive – brons

“The Toughest Firefighter Alive is die bloulint-kompetisie van die spele en dit is ‘n baie uitdagende kompetisie waar die deelnemer in volle brandbestrydingsuitrusting vier afdelings moet voltooi. Daar was meer as 300 inskrywings vir die kompetisie en skaars 210 deelnemers kon die vermoeiende afdelings voltooi,” het Manie bygevoeg.

• Afdeling 1 – Met ‘hose drag’ het hulle ses brandslange vir ‘n afstand van 70m getrek en toe twee brandslange opgerol.

• Afdeling 2 – Hulle moes ‘n gewig van 75kg oor ‘n afstand van 1.5m slaan, waarna hulle ‘n ‘dummy drag’ van 80m moes doen wat 80kg geweeg het, dan moes hulle deur ‘n tonnel kruip met twee 20 liter emmers vol water en dan oor ‘n 3m muur klim.

• Afdeling 3 – Hulle moes twee lere op ‘n toring sit en dan met twee 20kg gewigte tot op die vierde vloer klim, waarna hulle ‘n 30kg gewig met ‘n tou tot bo moes trek, dan weer af met die twee 20kg gewigte.

• Afdeling 4 – Hulle moes 100m hardloop en dan moes hulle 15 verdiepings teen ‘n gebou se trappe na bo hardloop.

“Die N’zuri-span het ook die afgelope drie jaar die National Toughest Firefighter Alive-kompetisie gewen en hoop om dit vanjaar weer te doen,” het Manie afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version