Oom Willie se wiele woema, doen joune?

Willie Opperman is die eerste inwoner in die News se nuwe reeks, Wheels of the West Rand.

Die News begin ‘n spliternuwe reeks, Wheels of the West Rand, waar inwoners kan spog met hul klassieke, unieke, eksotiese of skaarse motors.

Die 80-jarige Willie Opperman het sy 1993 Mercedes-Benz 2.3 E190 Sportline AMG na vore gebring vir die reeks. Willie sê dat die spesifieke motor die 13de een was wat van die produksielyn afgerol het, en dat dit ‘n versamelstuk is.

“Ek het die kar op veiling gekoop in 1999 vir R57 150 met 121 206km op die klok. My Benz was ingevoer van Duitsland af, en daar was ‘n beperkte hoeveelheid van hulle wat gemaak was,” sê Willie.

Hy voeg by dat hy verlief is op alles van die motor, van die kleur tot sy gunsteling deel – wat dit in staat is om te doen.

“Ek sal nooit die kar verkoop nie. Iemand het my al baie geld vir haar aangebied, en ek het geweier. Die kar het ook in al die jare nog nooit gebreek nie, al is sy myle oor die 200 000km,” het hy gesê. Die News het Willie en sy Mercedes besoek om uit te vind of dit die Benz-naam gestand doen.

Joernalis Heinrich Greyling noem dat die motor in ‘n baie goeie toestand is vir haar 31-jarige ouderdom en die feit dat dit elke dag bestuur word.
Die deel van die motor wat karakter gee is die handratkas.

Heinrich het die motor op die pad gevat en die brul van sy kragtige 4-silinder enjin was indrukwekkend om te ervaar.

“Die motor het baie meer krag as amper enige W201-generasie Mercedes, met die handrat wat spoedige ratwisseling gee. Anders as normale W201-generasie Mercedesse, wil die AMG getrap word. Op lae revolusies voel die kar asof dit ‘n siekte iewers opgetel het. Die kar se potensiaal skyn eers deur op 4 000 tot 6 000 revolusies per minuut,” het Heinrich gesê.

Willie het afgesluit dat die motor een van sy droomkarre is, en dat hy baie dankbaar is dat dit syne is. Indien enige inwoners hulle klassieke, unieke, eksotiese of skaarse motors in die reeks wil laat verskyn, stuur ‘n e-pos na heinrichg@caxton.co.za.

Exit mobile version