SA Bokkies bo teen SA A-skolespan by Monnas

Twee o18 SA Skole-spanne het kop gestamp by Monnas ter voorbereiding vir opkomende internasionale kragmetings.

Hoërskool Monument was weereens die gasheer van ‘n massiewe rugbyfees kort nadat hulle die gewilde o18 Stadio Craven Week gehuisves het.

Op 5 Julie was dit die keer die o18 SA Skole en SA Skole Akademie spanne wat teen mekaar in aksie was op die Ras van Rooyen-veld.

Die wedstryd het 15:00 afgeskop met groot rugbytalent wat ten toon gestel is.

Die SA Skolespan het hulself opgetel in die tweede helfte om uitendelik gemaklik met 38–22 te seëvier.

Die Krugersdorp News het die wedstryd bygewoon en teen lemoentyd het die telling 19–17 op die telbord gelees in die SA Skole Akademie-span se guns. Daar was toe hard gepraat in die kleedkamer en het die SA Skolespan hulself opgetel in die tweede helfte om uitendelik gemaklik met 38–22 te seëvier.

Toeskouer Deon de Jager sê die wedstryd was aantreklik, aanskoulik en van hoë gehalte – daar was nie veel verskil tussen die twee spanne se talent nie.

Wie gaan die man keer?

“Albei het hard baklei vir ‘n oorwinning en dit is goed om te sien,” het hy gesê.

Volgens projekbestuurder vir die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (SARU), Herman Masimla, is die beste van die beste spelers gedurende die onlangse o18 Craven Week gekies vir die twee onderskeie spanne.

‘n SA Skolespan-speler korrel pale toe.

“Die doel van die wedstryd was om ‘n grondslag te lê en spelers voor te berei vir die internasionale o18-reeks wat in Augustus plaasvind. Die spelers gaan dan teen lande soos Frankryk en Skotland koppe stamp in die Wes-Kaap. Daar was wel nie net o18-spelers in die spanne nie, maar ook o17-spelers,” sê Herman.

“Die was inderdaad ‘n goeie wedstryd en die keurders het goeie werk gedoen om die spanne te kies. Die spanne het voldoen aan wat ons van hulle verwag het. Die wenspan het die wen ook verdien,” het Herman afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version