Nories kraai netbal-koningin

Hoërskool Noordheuwel se netbalspanne spog met nege oorwinnings teenoor drie in hul onlangse derby teen Monnas.

Hoërskool Noordheuwel het groot sukses op die netbalbaan teen Hoërskool Monument op Donderdag, 2 Mei behaal.

Soos altyd het die Krugersdorp-derby talle toeskouers gelok en is die eerste span wedstryd selfs deur SuperSport op DStv uitgesaai.

Volgens Nories se netbalorganiseerder Karen Els, het hulle nege uit die 12 wedstryde teen Monnas gewen op die dag.

Nories se Michelle van Rensburg mik vir ‘n doel. Foto: Marius Esterhuizen.

Uit die lot wat hulle gewen het, het hul eerste span uitsonders goed presteer en 23–18 geseëvier. Monnas het wel vir die eerste driekwart uur voorgeloop maar Nories het koelkop gebly en hard teruggeveg vir ‘n oorwinning.

“”Dit is ‘n reuse prestasie en ons is trots op elke Norie-dogter. Ons het ‘n goeie dag en seisoen beleef. Hierdie tipe kragmeting is ‘n besondere goeie dag vir Wes-Rand netbal gewees, met goeie talent wat ten toon gestel is,” het Karen bygevoeg.

Nories se Kiara van Eden probeer keer met Monnas se Leané Malherbe op die aanval. Foto: Marius Esterhuizen.

Karen sê dat hulle die seisoen deurlopend hard gewerk het te danke aan goeie afrigters.

Zandré Erasmus, Monnas se eerste span afrigter, sê dat dit ‘n goeie voorbeeld en advertensie vir netbal is.

“Ons waardeer die lekker kompetisie tussen ons en Nories,” het Zandré afgesluit.

Exit mobile version