Hoërskool Noordheuwel is trots op hul atletiekprestasies wat hulle tussen Januarie en Maart behaal het.
Nories het vanjaar derde by die NWU Supersprinter en Curro Podium-byeenkomste geëindig. Hulle het ook die tweede plek ingeneem tydens die Norie Top 15 atletiekbyeenkoms en spog met 24 medaljes, waarvan 10 goud, nege silwer en vyf brons is, wat tydens onderskeie SA Skole en Atletiek Suid-Afrika (ASA) Kampioenskappe en byeenkomste ingepalm is.
‘n Paar atlete wat uitgeblink het, sluit in Kaylie van Oudtshoorn (drie goud en een silwer wenner), Hannah Hope Vermaak (drie goud en een silwer), Jessy Bekker (een goud, een silwer en twee brons), Caylen Jenkins (een brons), Aiden Bester (een silwer), Chane Fourie (een silwer), Hanri Pretorius (een goud en een silwer), Iwan Oosthuizen (een silwer), Jayden Fairlie (een silwer) en Jamoré Olivier (een brons).
Arno Graaf het ook aan die South African Sports Association for the Physically Disabled (SASAPD) Nasionale Kampioenskappe deelgeneem en twee rekords verbeter, naamlik ‘n skitter 38,88m in die spiesgooi en 10.65m in die gewigstoot. Hy het boonop goud in die diskus-item gewen.
Verder het Hannah vir die Wêreld Junior Atletiek Kampioenskappe gekwalifiseer en ‘n blitsige 11.72 sekondes gehardloop in die 100m tydens die SA Senior Kampioenskappe.
“Dit was ongelooflik! Atlete was bereid om so hard te oefen en het hul alles te gee waar hul ongeëwenaarde prestasies behaal het,” sê Arnold van der Merwe, atletiek-direkteur by Hoërskool Noordheuwel.