Sport

’n Trotse tradisie hervat!

Monnas se prestige rugbykliniek is weer hervat na jare en dit is iets wat SA Rugby se direkteur van rugby, Rassie Erasmus, van oor tot oor sal laat glimlag.

Hoërskool Monument se prestige rugbykliniek is vir die eerste keer in meer as twee dekades weer vuur en vlam aan die gang.

Vir die volgende vyf weke tot en met 23 Februarie bied Monnas die kliniek aan in die Witbulkraal om jong seuns tussen die ouderdom van sewe en 13 se rugbyvaardighede op te skerp.

Verdediging is nog ‘n vaardigheid waarop daar gefokus word.

Volgens Trompie van der Berg, Monnas se sport en bemarkingskoördineerder, het meer as 600 seuns van meer as 40 skole (insluitend die Wes-Rand) die eerste kliniek bygewoon.

“Die kliniek is oorspronklik in 1995 deur Hans Coetze begin wie toe die Monnas eerste span afgerig het. Die kliniek het toe vir ‘n klompie jare nie plaasgevind nie en ons as die Monnas Old Boysklub het dus besluit om dit te hervat en die trotse tradisie voort te sit. Die Monnas Old Boysklub sluit in manne wat die Witbultrui oor die kop getrek het. Ons het die klub gestig om terug te gee in die gemeenskap.”

Huidige Monnas eerste span afrigter Tjaart van der Walt.

Volgens huidige Monnas eerste span afrigter Tjaart van der Walt, is die tipe vaardighede wat jong seuns aanleer onder andere hantering en besluitneming.

Daar word dan ook gefokus op die afbreekpunte en verdediging. Die seuns se mentors sluit in manne wat diep spore getrap het op die rugbyveld asook gesoute afrigters en selfs spelers wat tans vir Monnas uitdraf.

Natuurlik maak Springbokke soos Willem Alberts, Ruan Dreyer en Julian Redelinghuys ook ‘n impak.

Oud-Monumentare en Springbokke Willem Alberts, Ruan Dreyer en Julian Redelinghuys.

“Ons almal het grootgeword met helde en dit het jou gemotiveer om deel te raak in ‘n sport, die spel te geniet en iets na te streef. So dit is baie belangrik om hierdie tipe manne in lewende lywe te sien. Hulle help ook om af te rig en skep net daardie vuur onder jong seuns. Dit is vir ons ‘n voorreg om ouens van daardie kaliber betrokke te hê,” sê Trompie.

Tjaart noem dat dit wonderlik is dat Springbokke bereid is om terug te ploeg.

“Dit is ook lekker dat Monnas hande kan vat met die Monnas Old Boys. Ons is ‘n gemeenskapskool bekend vir sy rugbygeskie-denis en dit is waaroor dit gaan. Ek is ‘n voorstander van basiese vaardighede en hoe beter as ‘n kliniek soos hierdie wat spelers kan ontwikkel.

Meer as 600 seuns van meer as 40 skole (insluitend die Wes-Rand) het die eerste kliniek bygewoon.

“Iets soos om te vang en aan te gee is van kardinale belang en wanneer die jong seuns hoërskool toe kom, soos hier by Monnas, is daardie vaardighede reeds aangeleer en in plek,” het Tjaart bygevoeg.

Hantering is een van die vaardighede wat geleer word.

Ruan Dreyer, ‘n oud-Monumentaar en klas van 2008, speel tans vaskopstut vir die Lions in die Verenigde Kampioenskap en Europese Uitdaagbeker. Hy het sy Springbok-buiging op 24 Junie 2017 teen Frankryk gemaak. Die Bokke het 35–17 op Ellispark geseëvier. Sy gevoel oor die kliniek is, “Dit is ‘n ongelooflike goeie inisiatief om rugby onder laerskoolseuns te kweek. Hul seisoen skop binne-kort af en dit sal hulle goed voorberei, maar bo en behalwe dit sal dit hulle ook ontwikkel in hul loopbaan vorentoe. Vir ons om net te sê ‘goeie duikslag’ of ‘probeer harder’ maak ‘n wêreld se verskil vir die jong seuns.”

Die doel van die kliniek is om jong seuns tussen die ouderdom van sewe en 13 se rugbyvaardighede op te skerp.

Julian Redelinghuys, die ander oud-Monumentaar wat agt keer die Springbokke verteenwoordig het, het sy buiging teen Italië op 22 November 2014 gemaak, ‘n wedstryd wat die Bokke 22–6 gewen het. Sy rugbyloopbaan is ongelukkig kortgeknip in 2016 weens ‘n ernstige nekbesering gedurende ‘n Curriebekerwedstryd.

So duik mens!

Nog ‘n oud-Monumentaar en klas van 2002, Willem Alberts, oftewel ‘The Bone Crusher’ soos hy in rugbysirkels bekendstaan, het al 43 keer die Springbokke verteenwoordig. Hy het sy buiging op 13 November 2010 teen Wallis gemaak, ‘n kragmeting wat die Bokke 29–25 gewen het. Willem het ook ‘n drie gedruk.

Sy loopbaan het begin by die Haaie en daarna Stade Français in Frankryk, maar hy verteenwoordig tans die Lions in die Ver-enigde Kampioenskap en Europese Uitdaag-beker. Willem het boonop sy land in twee Rugby Wêreldbekers verteenwoordig in 2011 en 2015. Sy laaste toets was teen Italië in 2016.

‘n Afrigter help ‘n seun.

Oor hul teenwoordigheid by klinieke en wat dit vir jong seuns kan beteken het Willem gesê, “Ek weet nie wat dit vir hulle beteken nie, maar vir my en toe ek ‘n jong seuntjie was van ses of sewe het ek ‘n rugbykliniek bygewoon. Springbokke het ons afgerig en dit is ‘n dag wat jy in jou lewe nie gaan vergeet nie. Dit is wat ons probeer om vir hierdie seuns te gee. Iemand soos ek kom van die Wes-Rand af en om terug tee gee is so lekker. Ons weet baie van die seuns het die talent en hulle gaan groot name word een dag.”

Die seuns se mentors sluit in manne wat diep spore getrap het op die rugbyveld asook gesoute afrigters en selfs spelers wat tans vir Monnas uitdraf.

Sy boodskap aan seuns is om nooit op te gee nie aangesien Willem nie altyd die eerste keuse of in die A-span was nie. “Ek het bietjie losskakel gespeel in my jonger jare. Later B-spanne, derde span en eers in matriek het ek eerste span gespeel, tog het ek ‘n lewe uit rugby gemaak so daar is vir almal hoop.”

En of ons hom binnekort weer in ‘n Springbok trui gaan sien het Willem gesê, “Ek raak-raak so aan 40 en dink nie die manne gaan na my kyk nie, maar as Rassie bel is ek reg.”

 
Back to top button