Sport

Meer as 600 Suid-Afrikaanse kampioene onder sy vlerk

Die News het by Pierre Blignaut gaan inloer om uit te vind wie hierdie wëreldbekende gewigstoot en diskus-afrigter is.

Pierre Blignaut is alombekend vir die merkwaardige afrigting wat hy aan talentvolle gewigstoot en diskus-atlete verskaf. Maar wie is die man wat Olimpiese atlete afrig? Die Krugersdorp News het by hom gaan inloer.

Pierre, 74, vertel hy is in Chingola, Zambië gebore. Sy pa was ‘n myningenieur en toe hy 13 was het hulle Suid-Afrika toe getrek. Hoewel hulle Afrikaans in die huis gepraat het was hy in ‘n Engelse skool, maar het in standerd vyf by ‘n Afrikaanse-skool in die Vrystaat begin skoolgaan. Op laerskool het hy rugby gespeel en naelope gedoen en altyd gewen. In standerd ses is hy Grey College toe, maar op hoërskool het hy nie meer gewen nie en dit het hom vreeslik gepla. Hy het besluit om gewigstoot te probeer.

Elke middag na skool het hy geoefen maar kon nie eers die huissportspan haal nie. In daardie jare het die myners ook almal aan atletiek deelgeneem. Een middag was een van sy pa se kollegas by hul huis en het vir Pierre die regte gewigstoottegnieke geleer waarna Pierre begin verbeter het.

Die familie het toe Namakwaland toe getrek en Pierre is na Hoërskool Jan van Riebeeck. By dié skool het hy die gewigstoot gewen en tweede geëindig in die Westelike Provinsie.

Tragedie het toe die familie getref nadat sy ma met skoliose gediagnoseer is en hulle moes Krugersdorp toe trek in 1967 sodat sy die beste mediese sorg kon kry. Hy is na Hoërskool Monument waar hy sy skoolloopbaan voltooi het. Hier het hy ook sy vrou Amla ontmoet en intussen het hy die Monnas-gewigstoot rekord met 26 voet verbeter.

Terwyl sy ma nog siek was is sy pa skielik aan ‘n hartaanval oorlede en moes Pierre na sy ma en sussie (wat vyf jaar jonger as hy is) omsien. Hy wou graag na die onderwyskollege gaan en eendag lewensoriëntering afrig, maar was een aand in ‘n ongeluk betrokke en het sy ma se kar afgeskryf. Hy het toe nie meer vervoer gehad kollege toe nie.

“Op daardie stadium wou ek nog atletiek en rugby doen en ‘n renjaer word,” het hy laggend vertel.

Lees ook: Donate and support a good cause at the 2023 Magalies Monster, Trail Run

Hy het toe ‘n polisieman ontmoet wat vir hom vertel het dat hy by die polisie kan aansluit en steeds rugby en atletiek doen. Hy was gelukkig genoeg om naby aan sy ma gestasioneer te wees toe hy by die polisie aansluit. Hy het dadelik begin atletiek doen en rugby speel vir die polisie. Later het hy aangesluit by die Vereeniging-polisie se veiligheidstak.

Met die onluste wat in 1967 uitgebreek het was Pierre teen daardie tyd ‘n luitenant. In 1991 het hy majoor geword en ook die subhoof van die Gauteng- en Wes-Rand se intelligensie-eenheid. Hy het by die tak gewerk tot in 1994.

Lees ook: Pluimbalspelers presteer in Kaapstad

Op 43-jaar oud het hy uit die polisie getree en ‘n versekeringsagent geword. Hy het homself opgewerk en selfs ander geleer hoe om versekering te verkoop voordat hy daar weg is en sy eie besigheid begin het. Die besigheid het gefaal toe die Saambou en Unie-banke hul deure sluit. Vir die soveelste keer in sy lewe moes hy van voor af begin.

“Elke keer tel iemand my op en dit is my God.”

Hy en ‘n vriend het toe ‘n korttermyn versekeringsmaatskappy gestig en op ‘n dag het een van sy seun se vriende gevra of hy hom met gewigstoot kan help. Daarna het ouers hom begin bel.

“So sit die Here my toe eintlik op die pad wat ek van die begin af moes loop … sport afrigting.”

Vandag is Pierre al vir 20 jaar ‘n afrigter en eindig hy nou waar hy begin het. Hy het al deur die hele Europa getoer en meer as 600 Suid-Afrikaanse kampioene afgerig. Daar is kinders wie beurse ontvang het om te studeer as gevolg van die afrigting wat hulle by hom gekry het.

En toe in 2022 word sy droom waar; nie net het drie van sy atlete aan die Olimpiese Spele gaan deelneem nie, maar hy is self ook gekies om die Olimpiese span te help afrig en ondersteun.

In 2019 is Pierre geopereer nadat hy met mondkanker gediagnoseer is maar dit sit hom nie terug nie. Hy beplan reeds om by die volgende Olimpiese Spele ‘n wen te kry.

Hy het vertel dat niks van die dinge in sy lewe moontlik sou wees sonder sy vrou aan wie hy vanjaar 50 jaar getroud is, nie. Sy atlete breek wêreldrekords en neem internasionaal deel, ‘n getuienis van nie net die afrigter wat hy is nie maar ook die mens wie hy is.

“Met die Here is niks onmoontlik nie.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button