Local sportSport

Jong gholfspeler het groot drome

Simon du Plooy, 'n jong man van Monument is onlangs gekies vir die GolfRSA-span wat Suid-Afrika by die All Africa Team Championships in Egipte gaan verteenwoordig.

Wanneer Simon du Plooy moedeloos raak of op die gholfbaan sukkel dan haal hy die foto van sy oorlede sussie Nadia uit wat hy altyd in sy gholfsak saamdra.

Al is hy besig om groot naam te maak in die gholfwêreld is dit sy herinneringe aan sy sussie wat hom nog hoop en moed gee.

Die 22-jarige het onlangs aan die Sunshine Vodacom Origins of Golf-toernooi by San Lameer deelgeneem. Al het hy nie deurgedring nie het die blootstelling wat hy daar gekry het vir hom baie beteken en het hy baie geleer.

Ek sien uit na wat die toekoms in gholf vir my inhou.”

Hy is onlangs gekies vir die GolfRSA-span wat Suid-Afrika by die All Africa Team Championships in Egipte gaan verteenwoordig.

Van Simon se groot gholfprestasies is dat hy in 2021 die Harry Oppenheimer-toernooi op die Maccauvlei-gholfbaan gewen het, tweede geëindig het by die Bobby Locke Uitnodigingstoernooi en vierde by die Sentraal Ope.

Simon het in Graad 8 besluit om sy rugbybal en krieketkolf vir gholfstokke en -lesse te verruil. Gedurende sy hoërskoolloopbaan het hy aan juniortoernooie deelgeneem en in sy matriekjaar het hy drie juniortoernooie en die klubkampioenskappe gewen.

In 2019 het hy voluit begin gholf speel en daarna aan IGT’s en Big Easy’s begin deelneem. In 2020 het hy sy eerste groot IGT by Wingate gewen – drie dae voordat sy jonger suster se lewensondersteunende masjiene afgeskakel sou word.

Nadia het aan Kearns-Sayre Sindroom gely – ‘n seldsame neuromuskulêre toestand wat jou oë en ander dele van jou liggaam, insluitend jou hart, affekteer.

Simon het dus nooit die geleentheid gehad om vir haar te vertel dat hy sy eerste groot toernooi gewen het nie.

Aan die einde van 2020 het hy begin amateurgholf speel en was 271ste op die nasionale randlys. Na ‘n goeie 2021 en ‘n tot dusver bestendige 2022 staan Simon nou in die sesde plek.

Hy het vertel dat hy nie vanjaar groot gewen het nie maar dat hy wel baie bestendig gespeel het en sewe toptienplekke behaal het. Hy kon ongelukkig vir drie maande na ‘n voetbesering nie speel nie en is eers onlangs terug op die baan.

Simon kry sy oefening op die gholfbaan wanneer hy nie met sy BCom-rekeningkundestudie by Unisa besig is nie. Hy probeer om vyf dae ‘n week van 08:00 tot 15:00 te oefen.

Sy gunstelingbaan waarop hy nog gespeel het is beslis Leopard Creek, en het in Februarie vanjaar op die herdenking van Nadia se gedenkdiens die geleentheid gehad om op dié pragtige baan te speel. Die volgende mikpunt vir Simon is om vir die GolfRSA-span gekies te word wat in 2023 in Europa gaan deelneem en dan daarna vir die GolfRSA-span wat om die Eisenhower-trofee gaan meeding.

Hy het vertel dat GolfRSA goed is vir hom en dat hy soveel as moontlik by hulle sal wil leer voordat hy ‘n profesionele gholfloopbaan sal begin, ‘n jaar of twee in die Sonskyn-toer speel, en uiteindelik in die PGA-toer meeding.

Simon se raad vir jong spelers is om hard te werk, te speel om te wen, en om in die oomblik te wees en nie te veel te stres wanneer hulle speel nie.

Jy moet ‘n liefde vir die spel hê en gholf geniet. As jy dit nie geniet nie hoekom speel jy? Doen net jou bes want jy wil nie na die tyd sê ek moes dit of dat probeer het nie, Jy moet letterlik jou beste gee en alles insit. Geniet dit, oefen hard, bly positief en hou net aan.”

Wanneer Simon die foto van sy sussie uit sy sak haal weet hy sommer net dat sy sou sê, “Hou aan, hou uit en ek is lief vir jou, maak nie saak wat gebeur nie.” Sy was 100% sy grootste fan.

You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button