Witbulle klop Garsfontein vir Noordvaalbeker-titel

Monnas se Witbulle moes 'n haas uit die hoed pluk om 'n hardnekkige Garsfontein 30–28 in die eindstryd van die Noordvaalbeker te klop.

Die Noordvaalbeker is Monnas s’n.

Die Witbulle het op ‘n baie warm laatwinter-Saterdag, 27 Augustus voor ‘n groot skare in hul eie kraal vir Garsfontein in die eindstryd naelskraap met 30–28 geklop.

Monnas moes wel in die doodsnikke ‘n haas uit die hoed pluk om as kampioen gekroon te word – iets wat hulle laas in 2018 kon vermag.

Lees ook: Wat ‘n derby! Wit Bulle byt vas teen vasberade Nories

Garsfontein op die aanval.

Die Witbulle het goed begin en is die een strafskop na die ander toegeken wat juis tot die tuisspan se eerste drie deur die nommersewe-flank Morne Venter in die sesde minuut gelei het. Garsfontein het daarna naby die doellyn gekom en is met slegs ‘n strafskop beloon maar het die kans verbrou. Met die besoekers wat baie meer balbesit geniet het en op die aanval was, is ‘n Monnas-speler met ‘n geelkaart van die veld afgestuur. Daarna was dit Garsies se beurt om strafskoppe toegeken te word, maar hulle kon op belangrike tye nie munt daaruit slaan nie.

Monnas-heelagter Jody Schambreel word onderstebo geduik nadat hy deurgebreek
het.

Eers in die middel van die eerste helfte kon die Pretorianers hul eerste punte aanteken toe ‘n strafskop oorgeklits is. Dis het die telbord na Monnas 7, Garsfontein 3 laat aanskuif. Dinge het toe begin skeefloop vir die tuisspan. Hulle het eers ‘n strafskop tydens ‘n skrum afgestaan en toe kort daarna skeef in die lynstaan ingegooi. Garsfontein kon ten spyte van hul aanhoudende druk geen voordeel daaruit put nie. Met sewe minute oor in die eerste helfte het Garsies die bal oor die doellyn probeer dryf maar die bal is opgehou. Monnas het probeer vasbyt op verdediging maar met net drie minute oor het die damwal gebreek en Garsfontein kon hul eerste drie aanteken. Die doelskop was mis. Met net een punt voor slaan Monnas dadelik terug en word met ‘n strafskop beloon wat suksesvol was. Monnas het teen lemoentyd 10–8 voorgeloop.

Monnas het teen lemoentyd 10–8 voorgeloop.

Soos in die eerste helfte het Monnas in hoogste versnelling begin maar net te veel hanteerfoute begaan. Hulle het wel die druk volgehou en hul aanhoudende balbesit is met twee pragdrieë kort na mekaar beloon. Buitesenter Zain Henery het die eerste drie in die hoek neergesit na die slot se puik Sonny Bill Williams-aangee. Daarna het die skrumskakel Ceano Everson ‘n bal wat losgespat het opgepik en in die ander hoek oorgeduik. In daardie stadium was Monnas gemaklik met 22–8 voor maar Garsfontein het nie gaan lê nie. Danksy ‘n goeie aangee vir die besoekers se binnesenter kon hy onder die pale gaan druk. ‘n Goeie breekslag deur Monnas het so byna tot hul derde drie gelei maar die Monnas-speler was dalk net te gerus op pad doellyn toe.

Ceano Everson, Monnas-skrumskakel op pad hoek toe.

Die tuisspan is nietemin ‘n strafskop toegeken wat die telling 25–15 in Monnas se guns te staan gebring het. Met so ‘n bietjie meer as 12 minute oor het Garsfontein aanhou veg, en ‘n pragdrie in die hoek het iets in die besoekers wakker gemaak. Alhoewel die doelskop mis was, is hulle kort daarna met ‘n strafskop beloon. Met die telling op 25–23 in Monnas se guns en met nog net ses minute oor duik Garsfontein weer oor in die hoek tot groot vreugde van (‘n gedeelte) van die skare. Die doelskop was weer mis maar Garsfontein was 28–25 voor.

In die laaste vier minute moes Garsfontein verdedig asof hul lewens daarvan afgehang het. Met die een strafskop na die ander wat aan Monnas in Garsies se rooi gebied toegeken is, was dit duidelik dat die tuisspan nie in ‘n gelykopuitslag belanggestel het nie en dus die een kans na die ander pale toe laat verbygaan het. Hulle het ten alle koste balbesit probeer behou deur met elke strafskop ‘n tikskop te neem. Met speeltyd lankal verstreke het dit vrugte afgewerp toe die Monnas-haker Jan Botes vir die wendrie oorgebars het.

In die doodsnikke het Monnas ten alle koste balbesit probeer behou deur met elke strafskop ‘n tikskop te neem.

Witbulle-afrigter Tjaart van der Walt was in sy noppies toe die eindfluitjie blaas.

“Dis ‘n wonderlike gevoel om kampioene te wees. Ons het heel seisoen hard gewerk om ons doelwit te bereik. Ons is baie bevoorreg en dankbaar. Dit was ‘n suksesvolle seisoen ten spyte daarvan dat ons vroeër vanjaar by die Wildeklawer-toernooi ‘n bietjie teleurgestel het.

Wynand Moolman en Witbulle-afrigter Tjaart van der Walt omsingel mekaar nadat die eindfluitjie geblaas het.

Dit is juis hierdie terugslag wat ons gemotiveer het om 10 uit 10 in die liga te wen, daarom is ons baie bly.”

Twee ander Monnas-spanne was ook in eindstryde betrokke maar het ongelukkig die knie gebuig. Hul o.14A-span het in ‘n naelbytstryd 12–8 teen Helpmekaar verloor, terwyl die o.16-span 24–10 teen EG Jansen vasgeval het.

Monnas-afrigter Tjaart van der Walt met die trofee word deur sy spelers skouerhoog gedra.
Vreugde vir Monnas!
Witbulle vier hul oorwinning.
‘n Witbul word gelukgewens.
Monnas is die kampioene!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version