Randfontein Rugbyklub het die eer gehad om talle junior rugbyspelers van verskeie klubs in die Goue Leeus Rugbyunie- (GLRU-) streek tydens ‘n Jeugrugbydag op Saterdag, 20 Augustus te verwelkom.
Agt klubs – waarvan vyf aan die Wes-Rand is – met spelers van o.7 tot o.15 was die dag betrokke. Dié klubs is Randfontein Rugbyklub, Germiston Simmer, Krugersdorp Harlequins, Kagiso Rugby Club, Alex Wolves Rugby Club, Badgers Rugby Club, Roodepoort Rugby Club en Khosa Rugbyklub.
Lees ook: Waar die lus vir rugby begin
Voorsitter van Randfontein Rugbyklub se jeugafdeling en een van die organiseerders Riaan Eloff het vertel dat dit baie harde werk, ‘n klomp reëlings en laat nagte geverg het om die rugbydag te beplan, en dat almal wat betrokke was hulle goed van hul taak gekwyt het.
“Dit was ‘n groot sukses, en mooi hardlooprugby is ten toon gestel. Die junior rugbyspelers het gewys waartoe hulle in staat is en het tydens die wedstryde te fraai gelyk op die velde waar hulle alles gegee het.
Die streek het hope talentvolle spelers vir die toekoms, iets waarop elke klub kan trots wees. Rugby was natuurlik die wenner en geen ernstige beserings is gedurende die wedstryde onder ons aandag gebring nie.
“Elke geregistreerde klub in die GLRU-streek kry ‘n kans om gasheer te speel gedurende die juniorklubrugbyseisoen. Op so ‘n dag speel verskeie klubs van regoor Gauteng teen mekaar waartydens die talent van toekomstige GLRU-spelers raakgesien word.”
Lees ook: Kleintjies beïndruk by Khosa-rugbydag
Riaan het vertel dat daar definitief weer so ‘n dag gehou sal word as hulle weer die geleentheid gegee word om dit aan te bied.
Die klub is besig om ‘n sewestoernooi te reël, en daar sal dus binnekort weer juniorklubrugby by die Greenhills Stadion aangebied word, dié keer in sewesformaat van o.7 tot o.18.
Ek wil net vir almal betrokke by die dag se reëlings, die toeskouers, klubs en hul spelers baie dankie sê dat hulle so ‘n groot sukses van die Jeugrugbydag gemaak het.”
Die dag se uitslae:
o.7:
Randfontein white 2 – 6 Roodepoort
Randfontein yellow 3 – 5 Krugersdorp
Randfontein white 8 – 1 Khosa
Randfontein green 0 – 7 Roodepoort
Randfontein yellow 0 – 9 Badgers
Randfontein green 3 – 2 Khoza
Randfontein yellow 1 – 6 Badgers
Randfontein mixed 5 – 1 Khoza
o.8:
Randfontein 0 – 4 Khoza
Randfontein 1 – 10 Badgers
o.11:
Randfontein 7’s 14 – 21 Alex Wolves
Randfontein 15’s 0 – 26 Alex Wolves
o.10:
Randfontein 7’s 0 – 27 Krugersdorp/ Kagiso
Randfontein 15’s 0 – 25 Khosa
Randfontein 7’s 10 – 15 Khosa
o.13:
Randfontein 26 – 12 Krugersdorp Harlequins