Local sportSportUpdate

o.13-Cravenweek (Dag 3): Leeus brul teen WP, Boland sink Haaie

Hoofwedstryd van die nasionale Craven Week vir o.13's is tussen die Goue Leeus en Boland.

Die Goue Leeus en Boland het hul plekke in die hoofwedstryd van die nasionale Craven Week vir o.13’s bespreek deur op Donderdag, 30 Junie onderskeidelik met die WP en Haaie af te reken.

Lees ook: o.13-Cravenweek (Dag 2): Boland, Leeus, Pumas, Valke, WP en Haaie bly op wenpad

Lees ook: Cravenweek o.13’s (Dag 1): WP en Leeus te goed, Bulle val net-net vas teen Griquas

Vir die WP wat ‘n massa-terugvegpoging geloods het met nog net 10 minute oor was dit te laat, en die Kapenaars het 32–27 verloor. Toe hulle reeds 32–13 agter was het hulle skielik balbesit begin beheer asook twee pragdrieë gedruk. Maar dit was nie genoeg nie, en welgedaan aan die Leeus wat vir 50 minute genoeg skade aangerig het, veral in die eerste helfte, om te wys wie is baas.

Die Leeus op die aanval.
Die WP se terugvegpoging was net te laat.

Die Haaie het regdeur hul wedstryd teen Boland net te veel foute gemaak. Boland het daarteenoor elke geleentheid aangegryp. Teen rustyd was Boland slegs 17–14 voor en met nog sewe minute oor het die Haaie hulle verbygesteek om 19–17 voor te loop. Soos talle kere in die wedstryd het die Haaie hul kanse na ‘n agterlynbeweging verbrou.

Boland het die Haaie te veel onder druk gehad.

Boland het die bal vorentoe geskop en uiteindelik gaan druk om die voortou te neem. Dit was egter nie die einde van die drama nie want met drie minute oor het die Haaie nog ‘n gulde geleentheid reg op Boland se doellyn gehad maar staan toe ‘n strafskop af. Dit het hulle duur te staan gekom want Boland het uit die gevaarsone ontsnap en tot in die Haaie se gebied gevorder om uiteindelik met ‘n strafskop beloon te word. Die doelskopper het pale toe gekorrel en die bal oorgeklits vir ‘n 27–19 oorwinning.

Met nog sewe minute oor het die Haaie vir Boland verbygesteek om 19–17 voor te loop.

As die Boland enigsins hul stem teen die Goue Leeus wil dik maak sal hulle die maanhare se voorspelers moet stuit, anders kan dit ‘n lang dag vir die Bolanders word.

‘n Toetsafmosfeer het geheers toe Namibië en Zimbabwe mekaar die stryd aangesê het. Daar is volksliedere gesing en hul landsvlae het gewapper. Namibië het uiteindelik 19–7 geseëvier.

Zimbabwe-spelers tydens hul volkslied.
Namibië op die aanval.
Passievolle Namibië-spelers tydens hul volkslied.

Die bepalings vir die laaste dag van die nasionale Craven Week op 1 Julie:

A-veld:

• 10:00: WP teen Haaie
• 11:00: WP B teen Pumas B
• 12:00: Boland teen Goue Leeus

B-veld:

• 10:00: Valke teen Griekwas
• 11:00: Boland B teen Goue Leeus B

C-veld:

• 10:00: Goue Leeus (Courage) teen OP B
• 11:00: Blou Bulle B teen Haaie B

D-veld:

• 10:00: Namibië B teen Griffons B
• 11:00: Limpopo Blou Bulle B teen Valke B

Back to top button