Jong skopboksers maak dorp trots, haal Protea-span

Twee jong skopboksers is reg om hul klub in Kenmare en land teen die res van Afrika te verteenwoordig.

Twee lede van die Ring Contact Fighting Art (RCFA) Skopboksklub in Kenmare is onlangs ingesluit in die Junior Proteaspan wat Suid-Afrika binnekort in kragmetings teen ander lande se skopboksers gaan teenwoordig. Hulle is al sedert 2016 deel van die klub.

Die tienjarige Lian van Zyl en 12-jarige Michael Sonnendecker sal in Augustus in Pretoria aan die Afrika Kampioenskappe deelneem.

Die twee skopboksers het vroeër vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Mosselbaai deelgeneem waar die skopboksers wat die eerste drie podiumplekke per item behaal het, vir die Proteaspan gekies is.

Lian is al drie jaar lank die RCFA-kampioen in sy ouderdom- en gewigsklas. Hy het derde tydens die SA’s in 2021, en tweede tydens die SA’s in 2022 geëindig.

Die jongman het ook vanjaar sy Sentraal-Gauteng-, Gauteng- en Protea-kleure verwerf en is een van min bruingordel RCFA-skopboksers in Suid-Afrika wat hierdie merkwaardige prestasie as tienjarige behaal het.

Michael is ook al drie jaar lank die RCFA-kampioen in sy ouderdom- en gewigsklas. Hy het tydens die 2021 Suid-Afrikaanse Kampioenskappe tweede geëindig, en was vanjaar die Suid-Afrikaanse kampioen. Hy het sy Sentraal-Gauteng- en Protea-kleure verwerf en spog ook met ‘n bruingordel op net 12 jaar oud.

Lian en Michael sal tydens die Afrika Kampioenskappe met skopboksers van regoor Afrika en Mauritius meeding.

Sensei Jorgen Cieslik het vertel dat die aspek van skopboks waarvan hulle die meeste hou die dissipline is. Indien jy ‘n fout maak kan jy net jouself daarvoor blameer, niemand anders nie.

“Die mental toughness en die fighting is in jou bloed en jy raak deel van ‘n groter gemeenskap … die fighting community,” het hy laggend vertel.

Die klublede gaan vanjaar aan nog ‘n paar groot toernooie deelneem, naamlik die Winter War in Nelspruit, die Great North-kampioenskappe, die Afrika Kampioenskappe en Wêreldkampioenskappe.

Lian en Michael is twee groot kampioene. Hulle mis omtrent nooit ‘n klas nie. Hulle is ‘n goeie voorbeeld vir hul maats en medestudente, is altyd nederig en die RCFA-gemeenskap is trots op hulle. Albei gaan nog groot hoogtes bereik. Hulle is nog baie jonk, maar moet beslis dopgehou word,” het sensei Jorgen gesê.

Exit mobile version