Local sportSport

Kleintjies beïndruk by Khosa-rugbydag

Buco Khosa Rugbyklub het onlangs 'n Tiny 10 Rugbydag aangebied waarby talle skole betrokke was. Hoewel die laerskole se rugbyseisoen einde se kant toe staan begin die klub se jeugrugbyseisoen nou eers.

Die soektog vir daardie toekomstige Goue Leeu, Haai, Stormer, Cheetah, Blou Bul of Springbok duur voort hier in Krugersdorp. Pieter de Villiers, voorsitter van Buco Khosa Rugbyklub se jeugafdeling het tereg gesê ons moet sorg dat daar ‘n toekoms in die sport is.

Lees ook: Waar die lus vir rugby begin

Hoewel die laerskole se rugbyseisoen einde se kant toe staan begin Khosa se jeugrugbyseisoen nou eers. Die klub se eerste amptelike wedstryde in die Goue Leeus-jeugliga is juis op 18 Junie. Met die oog daarop het die klub op Saterdag, 4 Junie ‘n Khosa Tiny 10 Rugbydag aangebied waarby spelers van Khosa se jeugspanne, Kenmare, Monument Primary en Protearif, almal van Krugersdorp, asook Dr Havinga van Roodepoort betrokke was.

Daar is glad nie ‘n tekort van passie nie, selfs op die vlak. Foto: Clinton Botha

Daar was 15 spanne van o.6 tot o.8 in aksie en soos altyd was ouma, oupa, ma, pa en kleinboet langs die veld om ouboet op die rugbyveld te ondersteun. Daar was ook ‘n karnival met ‘n minitreinrit en gesigverf om die res besig te hou. Daar was selfs iets warm om te drink en pannekoek om aan te smul.

Die uitslag van die heel kleintjies se wedstryde is gewoonlik van minder belang omdat daar meer gefokus word op ontwikkeling en om die lus vir die spel te prikkel, maar volgens Pieter het een van Monument Primary se spanne uitgestaan.

‘n Monument Primary-speler soek ondersteuning. Foto: Clinton Botha.

“Hulle was ons span van die dag. Dit was die eerste keer dat hulle kontakrugby gespeel het en duikslae moes uitvoer. Die afrigters en spelertjies het hulle baie goed van hul taak gekwyt en mens sou nooit kon dink dat hulle vir die eerste keer kontakrugby gespeel het nie,” het Pieter gesê.

“Dit was verblydend om die belangstelling en ondersteuning van die ouers te sien want dis belankrik dat die seuns die nodige ondersteuning kry en betrokke is by spansport. Dit vorm vriendskappe, trek almal nader aan mekaar en maak ons gemeenskap in Krugersdorp sterker.”

Charno Gerber van Khosa deur ‘n gaping. Foto: Clinton Botha.

Hy vra dat enigiemand wat by die klub wil aansluit ‘n epos stuur na youth@khosarugby.co.za.

“Daar is ‘n groot toekoms in rugby. Rugby het so baie vir soveel mense op verskillende vlakke gedoen, en dit beteken vir baie mense soveel op verskillende maniere. Rugby bring gemeenskappe bymekaar, dit is ‘n sport vir almal – die kleintjies, die grotes, die langes, die kortes. Maak nie saak hoe jy aanmekaar gesit is nie, rugby het ‘n plek vir jou! As elke ou 10% terugploeg van wat hy uit rugby gekry het sal daar altyd ‘n toekoms wees. Dis in ons bloed!”

‘n Speler van Havies in Roodepoort storm voort. Foto: Clinton Botha.
Eben Maree van Khosa. Foto: Clinton Botha.
Johandru du Plooy van Khosa ontduik ‘n verdediger of twee. Foto: Clinton Botha.
Daar is niks wat ‘n spanpraatjie nie kan regmaak nie. Foto: Clinton Botha.

You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button