Jong gimnas behaal goud in buiteland

Vir hom was dit 'n goeie lewenservaring omdat hy gesien het dat 'n mens plat op die aarde moet bly ten spyte van jou sukses.

Die Impala Gimnastiekklub in Krugersdorp is trots op een van hulle gimnaste wat onlangs groot sukses in die buiteland behaal het nadat hy ‘n gouemedalje verwerf het.

Heinrich Wessels (14) ‘n leerling van Hoërskool Monument het die kans gekry om vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar die Sone 6-kompetisie, wat hierdie keer in Harare, Zimbabwe gehou is, deel te neem.

Linda Coetzer, sy afrigter by die klub sê dit is voorwaar ‘n uitsonderlike prestasie omdat dit baie harde werk verg om vir die kompetisie te kwalifiseer.

“Die top 10 seuns- en dogtersminitrampolien-gimnaste van Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe is gekies om teen mekaar te kompeteer en hulle word daarvolgens op die ranglys geplaas.”

“Dit was vir my ‘n baie lekker ervaring om vir die eerste keer in die buiteland aan ‘n kompetisie te kon deelneem.”

Hy sê vir hom was dit ‘n goeie lewenservaring omdat hy daar gesien het dat ‘n mens ten spyte van jou sukses steeds plat op die aarde moet bly.

“Die kompetisie daar was regtig baie taai, maar ek het baie by die ander gimnaste en afrigters daar geleer om my spronge te verbeter.”

Heinrich sê dat hy baie trots is om ‘n goue medalje te hê.

“Ek gaan dit saam met my Suid-Afrikaanse klere raam sodat ek kan sien hoe ek as gimnas gegroei het wanneer ek daarna kyk.”

Heinrich sê sy volgende stap is om na dubbel-minitrampolienspronge op te beweeg.

Exit mobile version