Brandweer bevorder sport onder personeel

Die Wes-Rand Distrik Munisipaliteit (WRDM) se brandweerpersoneel het onlangs 'n sport- en geesvangdag gehou.

Die Wes-Rand Distrik Munisipaliteit (WRDM) se brandweerpersoneel het onlangs ‘n sport- en geesvangdag gehou om sport en fiksheid onder hulle personeel te bevorder.

Tydens dié dag wat deur die Suid-Afrikaanse Nooddienste-instituut (SAESI) en die Suid-Westelike Gauteng tak se sportafdeling aangebied is, is ‘n asemhalingsapparaat-aflositem gehou waaraan alle nooddienspersoneel kon deelneem.

André Marx, die plaaslike bevelvoerder van die WRDM-nooddienste sê daar was nege spanne van vier lede elk wat sowat 1,5km ver met ‘n brandweerhelm, baadjie en ‘n asemhalingsapparaat van ten minste 10kg op die rug moes hardloop. Die beste span met die beste tyd is as die wenners aangewys.

Die spanne wat met mekaar kragte gemeet het was van Carletonville, Westonaria, Magaliesburg en Krugersdorp. Lede van Working on Fire (WoF) het ook ingeskryf en die kompetisie gedomineer.

“Daar was medaljes vir die eerste drie plekke in die mans- en vroue-afdeling asook trofeë vir die WRDM-brandweer se beste mans- en vrouespanne,” sê André.

“Die medaljes vir die mansspanne is deur die WoF-spanne opgeraap, gevolg deur die Krugersdorp-span wat ‘n eerste plek behaal het.”

Magaliesburg en Westonaria se spanne het onderskeidellik die tweede en derde plekke verower.

Die vrouemedaljes is deur die Krugersdorp WoF se span gewen, gevolg deur die WRDM-brandweer se Carletonville-span en die WRDM-brandweer se Krugersdorp-span wat onderskeidellik ‘n tweede en derde plek verower het.

Die trofees vir die WRDM-brandweerspanne is deur die Krugersdorp-mansspan en Carletonville se vrouespan gewen.

“Thabiso Lethabane van die Krugersdorp WoF-span het die algehele beste tyd vir die 1,5km opgestel toe hy in ses minute 15 sekondes klaargemaak het. Asanda Nomala het die SAESI-trofee gewen vir die SAESI-lid met die beste tyd,” sê André.

By die geleentheid het SAESI Suid-Wes Gauteng-tak ook hulle sportman van die jaar aangekondig. Die prestasie is toegeken aan Manie Gouws wat die afgelope jaar in verskeie kompetisies, nasionaal en internasionaal, baie goed presteer het.

Asanda Nomala van Carletonville is in die tweede plek aangewys.

“Hulle sal ook vir die SAESI Nasionale Sportman van die Jaar-toekenning genomineer word waarvan die uitslag vroeg volgende jaar bekend gemaak word,” sê André.

Die SAESI en die WRDM beplan reeds om volgende jaar drie sportgeleenthede vir die nooddienste aan te bied wat ‘n verskeidenheid van sportsoorte soos brandslange sleep, trappe klim en poppe red sal insluit.

Exit mobile version