Tennis hou voordele vir kinders in

Daar is bewys dat dit vir 'n beter en gesonde leefstyl sorg en help om hulle verstandelik fiks te kry.

Meer as 30 kinders het op 25 Junie aan ‘n vriendskaplike tennistoernooi by die Krugersdorp Tennisklub in Kenmare deelgeneem en seker gemaak dat hulle hulle slag op die bane wys.

Hennie Kruger, voorsitter van die klub sê hierdie tennistoernooi word elke jaar gehou om beginnerspelers die geleentheid te gee om ‘n tennistoernooi-omgewing te ervaar.

“Die toernooi is gereël om kinders van verskillende ouderdomme met mekaar te laat kragte meet.”
Hennie sê tennis is ‘n manier om kinders fiks en gesond te hou, maar ook om hulle brein van die nodige suurstof te voorsien sodat hulle akademies beter kan presteer.

“Daar is bewys dat dit vir ‘n beter en gesonde leefstyl sorg en help om hulle verstandelik fiks te kry, want elke keer as hulle ‘n bal moet slaan, word tot 64 besluite geneem oor dinge soos bal-, son-, rakketposisie, baanoppervlak en die windrigting.

Micaela Maritz (15) maak gereed om ‘n harde hou na haar opponent toe te slaan.

“Ons wil nie van almal Roger Federers maak nie maar dit hou die kinders besig en van die strate af waar hulle nie slagoffers van dinge soos dwelms kan word nie.”

Hy sê wanneer ‘n mens tennis speel, dan vernuwe jy jou senuwees en spiere, en jy kry goeie kardiovaskulêre oefening wat goed is vir die hart.

“Tennis is die ideale sportsoort waaraan die hele gesin kan deelneem en in die proses fiks en gesond bly.”

Hennie sê ouers hoef nie bekommerd te wees dat die harde balle hulle kinders sal beseer nie. Daar is verskillende balle en die beginners speel met ‘n rooi bal – wat die sagste bal is – en vorder na hoër vlakke totdat hulle uiteindelik met die groen tennisbal kan speel.

Vir meer inligting kan Hennie by 082 372 7289 of per epos by henrito@lantic.net gekontak word.

Exit mobile version