Letters

OPINIE: Jy is nie alleen nie

Pastoor sê 'Haal diep asem. Vra vir God om jou te help. Gee totaal oor aan Hom'.

• Pastoor Kyle Tolman, Cross Connect Community Outreach (CCCO) se uitvoerende hoof skryf:

Die grootste leuen wat die vyand vir ons vertel is dat ons alleen is. Dat niemand vir ons omgee nie. Dat dit makliker sou wees om op te gee. Dat ons alles in eie krag moet doen.

Ek wil vir jou kom sê: Wees stil en weet God is met jou.

Talle kere het ek myself al bevind waar die situasie my ingesluk het. Dit het gevoel of die mure om my toemaak en ek nêrens gehad het om heen te gaan nie. Ons kan so vasgevang word met wat nou in ons lewens gebeur dat ons heeltemal perspektief verloor. Perspektief is belangrik want dit bepaal hoe ons dink en optree.

Ons lees in Hebreërs 13:5-6: Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.”
Daarom kan ons moed skep en antwoord: “Die Here is my hulp; daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan ’n blote mens my aandoen?”

Wanneer jy moeg, onseker of self depressief is weet dat jy moed kan skep want die Here is jou hulp. Hy is jou skuilplek.

Wanneer jou denke jou weer oorval en jy hulpeloos voel, begin om jou perspektief te verander. Fokus op God en nie die probleem nie. God is veel groter as die probleem wat jy nou ervaar. Breek die stem in jou kop deur stil te raak. Sit vir jou musiek aan en gaan sit by die voete van Jesus.

Vra die Heilige Gees om vir jou vrede te gee en plaas jou fokus op God. In stil word voor God verander ons perspektief. Jou gees kom in lyn met God se plan vir jou lewe. Vat nou ‘n oomblik en lê jou bekommernisse voor God neer. Haal diep asem. Vra vir God om jou te help. Gee totaal oor aan Hom.

God is alomteenwoordig. Hy het sy versekering en sekuriteit vir jou gegee. Hy is saam met jou! Hy het belowe dat Hy jou nooit sal los nie. Hy sal jou nooit in die steek laat nie. Jy is syne!

Back to top button