BRIEF: ‘Nou het ek drie pare skoene’

Pastoor praat oor dankbaarheid en dat ons moet besef hoe bevoorreg ons is.

• Pastoor Kyle Tolman, Cross Connect Community Outreach (CCCO) se uitvoerende hoof skryf:

So paar weke terug praat ek met Johan. Ek stap nou al ‘n paar jaar ‘n pad met hom. Ek tel hom gereeld by die skool op en probeer in sy lewe inbou.

Die een dag soos ek vir Johan optel let ek op dat hy tekkies aan het. Ek vra toe vir hom hoekom hy tekkies by sy skoolklere aan het. Hy antwoord toe en sê, “Oom Kyle dit is die enigste skoene wat ek het, my ander skoolskoene was heeltemal te klein en mamma kan dit nie nou bekostig om nuwes te koop nie.”

• Lees ook: OPINIE: Hy het plek vir jou

Hy het nie eers kouse saam die tekkies aan nie. Die tekkies is gaar en moes al ‘n jaar terug na die asblik toe gaan. Ongelukkig weet ek hoe die maatjies by die skool na die jong man kyk en hoe hy gespot en gelabel word.

Ons gaan toe dadelik winkel toe en gaan koop vir hom ‘n nuwe paar skoolskoene. Hy is so dankbaar. Hy kan nie wag om sy nuwe skoolskoene aan te trek nie. Ek sê toe vir Johan dat hy vir hom sommer nuwe tekkies ook moet kies. Opgewonde hardloop Johan na die rakke en gaan kies vir hom ‘n splinternuwe paar tekkies met kouse. Hy glimlag van oor tot oor.

Soos hy glimlag sê hy vir my, “Oom Kyle, nou het ek drie pare skoene. Ek kan dit nie glo nie.”

Daai dag het ek iets van dankbaarheid beleef. Ek het besef hoe bevoorreg ons is, ek het weer besef dat ons vir die klein goedjies moet dankbaar wees. Kos, ‘n warm bed, ‘n huis om in te bly, lopende water en selfs skoene. As mense is ons so ondankbaar en vergeet so maklik hoe baie ons het in vergelyking met ander wat bid vir dit wat ons as vanselfsprekend vat.

• Lees ook: OPINIE: Jy is nie alleen nie

My uitdaging vir jou is om ‘n lysie vir jouself te maak oor goed waarvoor jy dankbaar kan wees. Dit is in dankbaarheid wat ons weer die vreugde van die lewe kan beleef. Mag jy hierdie week weer die eenvoud van die lewe beleef.

*As jy wil help om kinders in die toekoms te ondersteun kan jy hul webwerf besoek.

Exit mobile version