Monnas se o15-netbalspan derde beste in SA

Monnas o15-netbaldogters het die derde plek behaal tydens die SA Kamioenskappe en wen R100 000 vir die skool.

Hoërskool Monument se o15-netbalspan is onder die top drie beste netbalspanne in Suid-Afrika.

Hulle pad na glorie is inderdaad lank, maar ‘n seisoen van harde werk het beslis vrugte afgewerp.

In Junie het die span gekwalifiseer om aan die Kay Motsepe SA Kampioenskappe deel te neem (waar slegs die top twee spanne vir elke provinsie gekies is by die kwalifiseringswedstryd), maar moes eers met Affies, Helpmekaar en Oos Moot meeding om deur te gaan na die kampioenskappe.

Monnas se netbalafrigter, Zandré Erasmus, sê hulle het Affies in die kwarteindstryd gewen, Helpmekaar in die halfeindstryd en toe ongelukkig teen Oos Moot in die eindstryd vasgeval en tweede geplaas.

“Die kampioenskappe het by Konka van 16 tot 17 Augustus plaasgevind waar die top 18 spanne in die land vir die beker meegeding het. Ons het agt groepwedstryde gespeel waarvan ons sewe gewen het. Ons het toe met slegs een punt teen Oranje Meisies [beter bekend as die Christelike en Nasionale Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein] vasgeval,” vertel sy verder.

Monnas het wel wraak geneem teen Oos Moot in die kwarteindstryd maar toe die halfeindstryd naelbyt teen Paarl Gimnasium verloor by die kampieonskappe.

“Ons het die brons medalje wedstryd by die kamioenskappe teen Potchefstroom Gimnasium gewen en dus derde geeïndig in Suid-Afrika. Ons het ook R100 000 gewen, wat aan die skool se geriewe aangewend gaan word,” het Zandré opgewonde gesê.

Sy het afgesluit deur te sê dat dit ‘n ongelooflike spesiale groep dogters is met leeuwyfieharte wat weet presies wat Monnas Guts is!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version