Meerkatte samel fondse in met groot sportmangees

Mullies hou hul tweede Meerkat Sportdag om fondse vir die skool in te samel.

Op Saterdag, 3 Augustus het Laerskool Muldersdrif hul Meerkat Sportdag op hul skoolterrein aangebied.

Mullies se bemarkingshoof Janneke van Biljon sê dit is die tweede keer dat die dag aangebied word, waar ouers en onnies raakrugby en netbal teen mekaar gespeel het.

“Die doel van die dag was dat botte geplaas is op die spanne wat sou wen, waar die fondse vir die skool ingesamel is. Ons wil dit graag ‘n jaarlikse instelling maak,” sê Janneke.

Sy sê verder dat die gees briljant was, en dat dit ernstig, maar tog pret was.

Die Krugersdorp News het Mullies op die dag besoek, waar dit hope pret was vir almal wat deelgeneem het. Die mans het raakrugby gespeel, waar die vroue netbal gespeel het. Daar was ook springkastele vir die kinders, en stalletjies met heerlike eetgoed.

Die spanne wat gespeel het, het ook hul eie unieke temas gehad, soos een van die netbalspanne was Wonder Women. Die mans se raakrugby was intens, waar hulle meegeding het om te wen.

Dit was duidelik dat die ouers en onnies die dag terdeë geniet het.

Exit mobile version