Kennies spog met drie Protea-ringbalspelers

Laerskool Kenmare het aangekondig dat drie leerders nasionale kleure verwerf het in ringbal.

Kennies spog met drie leerders as trotse Protea-ringbalspelers.

Nulé Trollip en Niah Booyens is in die o11 Protea-uitnodigingspan ingesluit terwyl Mienke van Staden die o11A Protea-ringbalspan sal verteenwoordig.

Kennies woordvoerder Peter du Toit sê die ringbalseisoen vir klubs begin reeds in Januarie. Spanne speel dan teen mekaar in ‘n reeks ligawedstryde.

In Mei word die Wes-Randse klubspanne gekies wat dan tydens die winterskoolvakansie in Pretoria aan die SA Nasionale Kampioenskappe deelneem. Die Protea-span sowel as Protea-uitnodigingspanne sal dus daarna aangekondig word. Dit is toe dat Kennies hoor dat drie van hul dogters nasionale kleure verwerf het.

“Mienke en Nule het nog nooit voorheen ringbal gespeel nie. Niah het ook in 2023 eers begin speel. As ons in ag neem dat die dogters nie lank ringbal gespeel het, is hulle prestasie om in die RSA en SA Uitnodigingspanne gekies te word soveel meer merkwaardig,” sê Peter.

“Wes-Rand is ‘n baie klein distrik met nie baie spelers nie, want ringbal [voorheen korfbal] is ‘n baie onbekende sport. Ringbal is ‘n sport soortgelyk aan netbal, daarom kon die meisies baie maklik op die veld aanpas omdat hulle goeie netbalspelers is. As spanbestuurder is ek baie trots op hulle en hul prestasie en hoop dat hulle in die toekoms sal aanhou speel, en deur hul prestasie sal daar meer meisies van hul ouderdom wees wat wil begin speel sodat ringbal kan groei as ’n sport,” het Peter afgesluit.

Exit mobile version