Schools

Mullies touwys gemaak om boeliegedrag te bekamp

AfriForum se teenboelieveldtog 'n groot sukses by Laerskool Muldersdrif.

AfriForum se teenboelieveldtogspan, saam met hul gewilde gelukbringer Matteus, het onlangs besoek afgelê by Laerskool Muldersdrif, waar meer as 600 leerders oor die gevare van boeliegedrag geleer het. Hulle is ook met die nodige kennis toegerus om te help om boeliegedrag te bekamp.

Die teenboelieveldtogspan se boodskap is gebou op die Bybelse konsep van die volle wapenrusting van God. Die leerders is ook daarvan bewus gemaak dat daar ’n verskil tussen konflik en boeliegedrag is.

“Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies en boeliegedrag te identifiseer en dit stop te sit,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum.

Johanco Abrie saam met Matteus, AfriForum se gelukbringer. Foto: Verskaf.

Laerskool Muldersdrif se hoof Herman Byleveld het AfriForum bedank vir hulle besoek, en gesê, “Ons waardeer die uitstekende werk wat AfriForum doen by ons en ander skole in die gemeenskap. Hier by Mullies is respek belangrik, teenoor ander, die omgewing en die natuur. Respek is nie net vir onsself nie, maar ook dat ons vir ons nageslagte moet sorg.”

Chantelle Lombaard, ‘n onderwyseres by skool, het bygevoeg, “Boeliebewusmaking is baie belangrik in skole omdat ouers en leerders nie altyd bewus is wat afknouery werklik is nie. Ouers en leerders sal baie keer geïsoleerde gevalle aanmeld as boelie. Dit maak leerders ook bewus van die gesegde ‘Elke aksie het ’n reaksie’. Leerders weet ook dikwels nie hoe om op te tree teenoor boelies of hoe om ander te help wat geboelie word nie.”

Volgens Leandie Bräsler, bestuurder vir jeugleierskap by AfriForum, bemagtig hierdie projek reeds vir sewe jaar lank skole landswyd.
“Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur ons boompies te buig terwyl hulle nog jonk is, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe.”

Vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

 
Back to top button