Schools

Monnas-dansleerders beïndruk in Roodepoort

Monnas-dansstudieleerders het hul laaste vertoning gelewer en asems weggeslaan in Roodepoort.

Hoërskool Monument het hul 11de amptelike graad 12-produksie op 2 Mei by die Roodepoort Teater gehou waar alles deur die matriek dansstudieleerders georganiseer en beplan was.

Volgens dansonderwyser Tania Jansen van Vuuren, het nege matriekleerders van die choreografie tot die kaartjies beplan, waar sy grapperig gesê het dat hulle selfs die Prestik moes onthou het om die plakkate vas te sit. Die produksie is verder deel van hul praktiese asseseringstaak waar hulle voor ‘n gehoor van ongeveer 300 mense moes optree. Daar het ook 10 graad 11-leerders deelgeneem om ervaring vir hulle produksie in 2025 te kry.

Elke leerder het ‘n spesifieke rol gespeel vir die voorbereiding en produksie. Jennifer Roebl het die tegnies, musiek en die agtergrond gedoen. Nerissa Wentzel het die fondsinsameling beplan, Loua-Lize Brown het die progamnota beplan, Meegan van Rooyen het die vermaak gereël en Itumeleng Mosoetsa was in beheer van die kaartjies. Nadia Desousa het die bemarking en lokaal gerëel, Chloe Assad het BBP-reëlings getref, Re-ann du Toit was in beheer vir die dekor en Chanelle Britz het al die administrasie rondom die toneel hanteer.

Chloe Assad, Itumeleng Mosoetsa, Jennifer Roebl, Nerissa Wentzel, Re-ann du Toit, Loua-Lize Brown, Meegan van Rooyen, Nadia Desousa, en Chanelle Britz na die toneel.

“Dit is ‘n reuse beloning om te sien hoe alles bymekaar gekom het,” het Meegan gesê.

Gedurende die toneel was daar ‘n opening, sangoptrede en dans.

“Dans is die versteekte taal van die siel en waar dit direk met ons lewe verband hou,” het Nadia gesê gedurende die openingstoespraak.

Die toneel se tema was Memories, the timeless treasures of our hearts, waar die danse ook verband gehou het met kwessies soos emosies, mensehandel en oorlog. Al die winste van die toneel gaan ook aan liefdadigheid geskenk word.

“Die was een van die beste optredes wat ek al gesien het,” het Tania bygevoeg.

Aan die einde van die toneel was dit ‘n emosionele oomblik vir die leerders omdat dit hul laaste een was. Die groep het ooreengekom dat die toneel nie net uitdagend was nie, maar ook hul beste optrede nog.

Back to top button