Schools

Monnas-matrieks van 2023 ware Monumentare!

Hoërskool Monument was vol lof vir die matriekklas van 2023.

“Julle los diep voetspore by Monnas en ons gaan julle mis. Eenmaal Monumentaar – altyd Monumentaar!”

Dit is die woorde van Monnas se woordvoerder Belinda du Toit aan die klas van 2023 wat op 19 Januarie hul amptelike matriekuitslae ontvang het.

Donna-May von Graevenitz.

“Ons is baie positief en geweldig trots op hoe die kinders gevaar het. Ons wil baie dankie sê aan elke matriek-leerder se bydra en deelname die afgelope vyf jaar. Dit is altyd spesiaal om te sien hoe elke matrikulant ontwikkel het en ons glo dat baie van hulle nuwe hoogtes gaan bereik. Ons is saam met julle opgewonde vir al die geleenthede wat op jul wag,” het sy bygevoeg.

Carla Richards en Yolindi Mostert.

Die Krugersdorp News het die geleentheid gehad om met van die matrikulante te gesels. Wat toekomsplanne betref het Chane de Jager genoem dat sy oogkunde by UJ gaan swot en Carolene Visser haar LLB-graad. Carla Richards, wat met vyf onderskeidings spog, gaan Stellenbosch toe om biochemie te studeer. Yolindi Mostert gaan Potch toe om op dieetkunde te fokus terwyl boeties Reanco en Emile Louw logistieke bestuur by Stadio en medies by Wits onderskeidelik wil swot.

Broers Reanco en Emile Louw.

Natuurlik groet Monnas ook ‘n handvol sportsterre wat hul vlerke in die grootmenswêreld gaan sprei.

Hulle is onder andere rugbymanne Ula van der Westhuizen en Morne Venter (albei slotte) wat by die Lions aangesluit het terwyl Ceano Everson (skrumskakel) na die haaitenk toe gelok is in Durban.

Clerise Begg (hoofdogter) en Larissa Klopper.

Verder wil nog ‘n matrikulant, Tiannette Wessels, wat by die wêreldkampioenskappe goud ingepalm het, graag ‘n loopbaan in dans hê.

Ryno Beekman.

Back to top button