Kennies graad 1’s sien die toekoms

Van klok-lui, 'n gelukbringer en hoof se hand te skud tot 'n spesiale bril. Laerskool Kenmare se graad 1 groep van 2024 is hartlik verwelkom op 16 Januarie.

Om graadeentjie-paddabeentjies op hul eerste skooldag so tuis as moontlik te laat voel is nie altyd so maklik soos val uit ‘n boom nie.

Dit verg harde werk en maande se beplanning, iets wat Laerskool Kenmare duidelik bemeester het toe hulle die nuwe groep graad 1’s amptelik op 16 Januarie verwelkom het.

Kennies-hoof Wouter Immelman en die skool se gelukbringer, Superkennie saam met die Breytenbach-familie SJ en Linda asook hul seun Janu en dogter Lindeli.

Die oggend het vroeg begin waar elke graad 1-leerder en hul ouers deur die hoof Wouter Immelman en die skool se gelukbringer, Superkennie, by die hek verwelkom is. Die ‘nuwe Kennies’ het toe deur die hek geloop en die klok gelui wat ’n tradisie by die skool is. Die klok word dan weer oor sewe jaar gelui wanneer hulle die skool verlaat. Daarna het die leerders en hul ouers klasse toe beweeg.

Nicolette, Mia en Jan Botha.

“Ons het ’n baie bekwame graad 1-personeelkorps met jare se ondervinding wat hul ingewag het. Daar is ook ’n voltydse assistent in elke klas. Hulle is almal universiteitstudente wie hulle prakties doen terwyl hulle studeer. Verder is daar ‘n bril en appel op die tafel gesit wat lees … ‘Ek is BRILjant’ en ‘Ek is die Here se OOGappel’ Die idee van die ‘OOGappel’ is om klem te lê op ‘Ons SIEN die toekoms’. Die idee was dat graad 1’s veilig en geliefd moet voel,” het Reneé Zaaiman, Departementshoof vir Kennies se grondslagfase gesê.

Kihan Nagel met sy spesiale Kennies-bril.

Sy het bygevoeg, “Alles het besonder goed verloop en daar was beslis ’n plan. Beplanning vir die eerste week word reeds maande vooraf gedoen en graad 1-leerders het reeds ’n dag voor die res van die kinders skool toe gekom sodat hulle rustig kan aanpas. Daar is ook twee inligtingsaande vir die ouers gehou, een in 2023 en op 15 Januarie. Die feit dat ouers ingelig is maak die eerste dag en week soveel makliker en skakel onsekerheid uit. ’n Ingeligte ouer is ’n gelukkige ouer.”

Lizel, Matthew en Shaun Harris.

Die 2024-groep is boonop beskryf as spesiaal aangesien hulle die klomp is wat inkom in ‘n jaar wat Kennies 50 jaar oud word.

Wat nou voorlê vir die graad 1’s is die huissport op 20 Januarie, ’n massa revue asook die vele ander sportsoorte en kultuuraktiwiteite om uit te kies.

Mickey Steynberg en sy dogter Mia.

Skoolhoof Wouter se skriftelike verwelkoming aan elke leerder en hul ouers is, “Ons skool is uitnemend gerat om elke leerder se behoeftes te kan aanspreek op sy/ haar vlak. Die begaafde kind, die gemiddelde kind of die kind met spesiale omstandighede. Elke Kennie ontwikkel binne die skoolmilieu. Ons is baie trots op ons ‘eindproduk’ en ons roem op die uitstekende suksesse wat ons Kennie Kampioene jaarliks bereik, hetsy dit intern of in die onderskeie hoërskole van hul keuse is. Ons sien meriete in elke individuele poging en besef sukses word in verskillende fasette gemeet. Daar word met deernis omgesien na leerders met beperkte vermoëns en ons beskik oor die vaardighede om aan hierdie behoeftes te voldoen. Ons put ons krag uit God-Drie-Enig en bely ons ewigdurende afhanklikheid van Hom.”

Jeanine van Schalkwyk met haar spesiale Kennies-bril.

Volgens Wouter het die skool ook behoefte om ‘n hegte vennootskap met ouers te sluit, een wat altyd in belang van hul kind sal wees.

Juffrou Karin May saam met Ethan van Heerden en Amoré Sounes.

“Ons aspireer om in alle opsigte ‘n verlengstuk te wees van die ouerhuis waar dissipline en veiligheid, onlosmaaklike hoekstene van ons opvoeding sal vorm. Die bestuur koester die waarde van ‘n ‘oopdeur-beleid’ en die personeel is geen uitsondering op hierdie reël nie. Slegs deur te weet wat vir u, en by implikasie u kind belangrik is, kan die skool sy dinamika behou en voortdurend ‘n proaktiewe, eerder as ‘n reaktiewe instelling wees. Welkom by Laerskool Kenmare!”

Neeva van der Westhuizen met haar spesiale Kennies-bril.
Luhané Fourie steek haar hand op.
Ouers Robyn en Ri-Jean Smallbone saam met hul seun, Rylathan.
Kennies se graad 1 C-klas beter bekend as die ‘geel-klas’.
Blake Loots saam met sy ma, Courtney.
Lanieke Holton.
Nathan Lundy lui die klok.
Leané Swanepoel.
Kennies-hoof Wouter Immelman verwelkom ‘n graad 1-leerder.
‘n Opgewonde Peyton Lubbe lui die klokkie. Sy sal na sewe jaar weer die klok lui wanneer sy skool verlaat.
Exit mobile version