Proties blom van die trots

Talle eretoekennings is aan ‘n hele klomp Proties oorhandig tydens hul prestige-aand.

Laerskool Protearif het onlangs talle eretoekennings oorhandig aan leerders wat uitsonderlike prestasies deur die jaar behaal het.

Die spog-aand het by die Krugersdorp-Oos gemeente plaasgevind.

Leerders wat beloon is tydens die geleentheid sluit in D2-wenners (spanverband) in beide krieket en hokkie; individue in die D2-span (krieket, hokkie en atletiek); leerders in die Gauteng-Wes krieketspan en leerders wat deelgevorm het van die Wes-Klinieke rugbyspan. Spesiale toekennings soos Protie van die Jaar, Beste Vordering en ontluiking, Veelsydigste Graad 7-leerder, voortreflike leierseienskappe, hulpraadleier van die Jaar sowel as die beste akademiese presteerders van Graad 4 tot 7 is ook aangewys.

Miguel Venter met sy D2-atletiek en Victor Ludorum-toekennings.

“Ons voel baie trots op ons Proties wat so goed presteer en hulle talente uitleef tot die beste van hulle vermoë. Dit is belangrik om aan leerders die nodige erkenning te gee want dit motiveer die leerders,” het onderwyser en organiseerder van die erkenningsfunksies Marlizette Jordaan gesê.

Sy het bygevoeg, “Alhoewel al die toekennings op hierdie spesiale geleentheid uitsonderlik was, is daar wel spesiale toekennings oorhandig.”

Protie van die Jaar, Izé Jordaan. Foto: Status Studio.

Onder andere, Izé Jordaan is as Protie van die Jaar aangewys terwyl die Beste Vordering en ontluiking-toekenning aan Shayne Pretorius oorhandig is. Verder is die Veelsydigste Graad 7-leerder Kaylee Marx en Tiaan Vorster die Hulpraadleier van die Jaar. Die Voortreflike Leierseienskappe-toekenning behoort dan aan niemand anders as Christiaan van Zyl.

“By Proties blom elkeen waar hulle geplant is! By Proties is elke individue belangrik,” het Marlizette afgesluit.

Exit mobile version