Schools

Harde werk werp vrugte af vir Krappies-alumni

As graad agt leerder het Jalandri 't Lam reeds die akademiese bul by die horings gepak. Sy is 'n voorbeeld van wat harde werk kan verrig.

Die span van Krappies Naskoolsentrum is baie trots op een van hul voormalige kleuters wat ‘n goeie voorbeeld skep vir ander kleuters.

Driekie Graham, hoof van die naskoolsentrum, het vertel dat Jalandri ‘t Lam ‘n uitmuntige voorbeeld vir ander kinders is. Jalandri is nou 14 en ‘n graad agt leerder by Hoërskool Bastion. Sy het haar laerskool loopbaan by Laerskool Dr Havinga voltooi en was ook ‘n leier. Aan die einde van haar graad sewe jaar het sy behoorlik die pryse ingepalm en is ook vanjaar die toppresteerder vir graad agt.

Die jong meisie is al vanaf graad vyf in die Top 10 en het in graad ses en sewe ook eerste geëindig. Sy was ook deel van die toneelspan in graad sewe en agt.

“Sy gebruik haar mooi eienskappe en strooi dit! Wat ‘n ongelooflike voorreg om haar lewenspad te sien ontvou in ‘n pragtige inspirerende verhaal vir maats wat wonder hoe lyk die kant waar mens hard werk.”

Sy is ‘n lid van die verteenwoordigende leerlingraad by Bastion en ook ‘n kranige skrywer vir die Bastion Buffelblad waar sy reeds vier berigte ingedien het.

Jalandri het vertel dat haar gunsteling vak Wiskunde is en vertel dat sy doelwitte vir haarself stel en trots is wanneer sy een bereik.

Jalandri ‘t Lam by haar graad sewe prystuitdeling. Foto ingestuur.

Maar soms kan dit moeilik wees om jou akademiese en jou sosiale lewe te balanseer en daarom het Jalandri verduidelik hoe sy dit doen.

“Ek stel elke kwartaal vir my ‘n studierooster op sodat ek my sosiale lewe om my studietyd kan beplan. Tydens eksamen is daar geen kuier saam met my vriendinne nie omdat studietyd veral in die eksamens baie belangrik is. Ek het vir my eindeksamen reeds in die Oktober-vakansie begin leer omdat die werk baie is en die tyd min.”

Sy het verduidelik dat leer moet pret en positief wees en as jy nie daarvan hou nie moet jy probeer om dit vir jouself kleurvol en lekker te maak.

“My ma sê altyd vir my ‘if you put your mind to it, you can do anything’. Dit is die waarheid, want as jy fokus en nie jou gedagtes laat af dwaal nie, kan jy baie goed presteer. My raad is begin met ‘n vak se onderwerp waarvan jy nie hou nie, sodat jy die lekkerste vir laaste los.”

Sy wil graag eendag in ‘n mediese rigting ingaan en dalk ‘n pediater word. Sy is reeds opgewonde vir volgende jaar en kan nie wag om haar vakke te kies nie.

“Ek is baie opgewonde, want dan is my tas ligter.”

Sy het vir Driekie bedank wat haar gehelp het om in haar laerskool loopbaan te leer ‘n studierooster op stel en hoe om haar werk op te som – dinge wat haar nou in die hoërskool baie help.

“Ek wil vir Jesus baie dankie sê wat my die krag en kalmte gee vir elke toets en eksamen.”

Check Also
Close
Back to top button