Schools

Nories se omgee-projek ‘n sukses vir ander maatjies

Elke jaar kyk Nories hoeveel kruideniersware hulle kan insamel om hulle behoeftige maatjies se mae vol te hou oor Desember.

Elke jaar span die leerders van Laerskool Krugersdorp-Noord saam om kospakkies bymekaar te sit vir mede-leerders wat swaarkry oor Desember. Vanjaar is geen uitsondering nie.

Die skool se omgeeweek het van 13 tot 17 November plaasgevind en kon 97 sakke vol kos pak. Die patrysies, soos hulle genoem word, is die skool se behoeftige maatjies wat elke dag by die skool ‘n kospakkie ontvang. Die skool help so 40 patrysies en in 2022 kon hulle hierdie gesinne vir drie maande van kruideniersware en ‘n ontbyt voorsien.

Nog ‘n sak kos wat vir die patrysies uitgedeel sal word.

Die graad eens is gevra om 2-Minute noedels en langlewemelk skool toe te bring terwyl die graad twees gevra is om ‘n blikkie sousbone en boeliebief te bring. Die graad dries kon ‘n pakkie pasta en ‘n blikkie tamatie en uie smoor bring en die graad viers ‘n pakkie rys en enige ontbytgraan wat met melk gemeng kan word. Die graad vyfs is gevra om mieliemeel en teesakkies te skenk, die graad sesse langlewemelk asook koffie en die graad sewes suiker en ‘n blikkie tuna.

Hulle wou graag genoeg ontbytgraan en melk insamel om te kyk of hulle in 2024 vir die patrysies ‘n ontbyt kan gee elke oggend.

Quintin Botha, wat in beheer is van die insameling, het verduidelik dat die kospakkies hul 40 patrysies en so ongeveer 34 gesinne kan help.

“Daar was heelwat kruideniersware ingesamel. Dankie aan ons ouers en leerders vir die ondersteuning en belangstelling.”

 

Wanneer die leerders hulle rapporte aan die einde van die jaar gaan haal kan die maatjies hulle kospakkies huis toe vat ook.

Hy het vertel dat die leerders tydens hul omgeeweek mekaar uitdaag om so veel as moontlik in te samel. In elke sak is genoeg kruideniersware om die hele Desember te hou. Die skool deel dan weer in Januarie ook ‘n pakkie uit.

Check Also
Close
Back to top button