Afrikaans in die Wolke was dié fees om by te wees
Die Afrikaans in die Wolke-fees was beslis 'n sukses en 'n prettige dag vir almal.
Dit was dié fees waar jy moes wees, die Afrikaans in die Wolke-fees is onlangs weer by Hoërskool Noordheuwel aangebied en die dag is deur hordes mense geniet.
Vanjaar het die fees se organiseerdes hul beplanning en voorbereiding noukeurig gedoen om te verseker dat dié fees nie net genotvol is nie, maar dat daar ten volle aan die besoekers se behoeftes voldoen word.
• Lees ook: In die Wolke met Nories
Van veilige parkering, smullekker kos en verversings, tot ‘n groot verskeidenheid bekende sangers het gedurende die dag op besoekers gewag. Eerste op die lys van gaskunstenaars was Liezel Pieters wat die skare behoorlik in ‘n kuierbui gekry het.
Riana Nel het daarna soos altyd weer aan die hartsnare getokkel en selfs vir die paartjie wat die langste getroud is by die fees hul eie liedjie geskryf. Ricus Nel het saam met sy vrou almal se boereharte laat vinniger klop en hul voete aan die dans gekry.
Volgende was Droomsindroom wie die jongmense ook uit hul stoele gekry het. Maar die dag het behoorlik vlam gevat toe Early B en Justin Vega die verhoog betree het. Oud en jonk het almal saam gedans en gesing. Early B het ook die skare bederf met ‘n uittreksel van sy nuwe liedjie Skud jou biscuit wat later die maand bekendgestel gaan word.
Hulle is gevolg deur Snotkop en Karen Zoid wat verseker het dat die fees op ‘n hoogtepunt afsluit.
Noordheuwel wou die jaar beslis groter en beter gaan en hulle het dit met vlieënde vaandels reggekry. Begin sommer nou al spaar vir jou 2024 Afrikaans in die Wolke-kaartjie, dit is iets om nie mis te loop nie.
Teaser: Die Afrikaans in die Wolke-fees was beslis ‘n sukses en ‘n prettige dag vir almal.