Local news

Krugersdorp sweef op die wolke by Nories-fees

Afrikaans in die Wolke het sowat 8 000 mense gelok en word as ’n ongelooflike sukses beskou.

Dit was weer daardie tyd van die jaar toe gees die dorp oorval het tydens Hoërskool Noordheuwel se bekende musiekfees, Afrikaans in die Wolke, op 14 September.

Sonet Guy, bemarkingshoof van Nories, het gesê vanjaar was die sesde van sy soort en byna 8 000 voete het die skoolterrein binnegeval.

“Dit het ’n hele span byna ’n jaar geneem om die dag te beplan en te organiseer waarna baie lede van die gemeenskap uitgesien het,” het Sonet bygevoeg.

Alexia Taljaard en Juane Pieters.

Sy het verder gesê dat hulle die hele gemeenskap wil betrek en dat dit nie ‘n Norie-fees is nie, maar wil eerder hê dit moet ‘n Krugesdorp-fees en een van die grootste Afrikaanse musiekfeeste in die dorp wees.

Die Krugersdorp News het die fees bygewoon waar dit ‘n prettige geleentheid vir vriende en familie was.

Kunstenaars waaronder Eloff, Twee, Appel, Riaan Benade, Snotkop, Steve Hofmeyr en Spoegwolf het voor ‘n groot skare feesgangers opgetree. Spoegwolf, wat daardie aand opgetree het, het veral ’n vlaag mense gelok om voor die verhoog te sing en dans.

Calvin Gunter, Garnett Bennet en Wayne Kilian.

Natuurlik het enige musiekfees ’n biertuin nodig wat glad nie teleurstel nie. Dit was briljant georganiseer, met ‘n ry wat soos stroop geloop het sodat feesgangers nie te lank sonder ‘n koue ene hoef te wees nie.

Vriende en families het toe baie pret gehad waar gesinne saam oupas, oumas en die kinders met hul sambrele en kampstoele hulself gemaklik gemaak het om heeldag die fees te geniet.

Christi en Elaine Erasmus saam met Tyrone Herbst.

As die musiek nie jou koppie tee was nie, sou die stalletjies en pretpark jou op jou tone hou vir vermaak. Kos, koeldrank, tekstiele en klere was van die items wat daar was. Die pretpark het rustige en opwindende ritte gehad wat jou hartklop laat styg het.

Die fees het nie die gemeenskap teleurgestel nie en was beslis een van die grootste Afrikaanse musiekfeeste in die dorp.

Back to top button