Deo Gloria bring weer hoop in Burgershoop

’n Heerlike bakkie kos gevul met groente en vleis bring ook bietjie hoop terug na die honger gemeenskap van Burgershoop.

Deo Gloria Huis is ‘n organisasie wat teruggee aan die gemeenskap van Burgershoop.

In die verlede het die News talle van Deo Gloria se inisiatiewe gedek waar hulle teruggee aan hul gemeenskap, insluitend die onlangse Baadjies in Bome-inisiatief asook waar hulle kos aan die gemeenskap gee.

• Lees ook: Minderbevoorregtes skep moed by Baadjies in Bome-inisiatief

Organiseerder Ronell Maud Breet sê dat sy ‘n dwelmverslaafde was en 17 jaar agter tralies deurgebring het. Sy vertel verder dat sy al 12 jaar skoon is, vandat sy by Deo Gloria Huis betrokke geraak het.

“Hulle het my nog ’n kans in die lewe gegee, en ek het my lewe omgedraai, danksy my tweede kans,” sê Ronell.

Sondae deel hulle gewoonlik kos aan die gemeenskap uit en daar is altyd vleis en groente beskikbaar en die hongeres is welkom om ‘n bakkie te bring om kos te skep.

Kosie Jooste geniet sy bord kos.

Op Sondag, 18 Augustus het hulle wors aan die gemeenskap uitgedeel en op 25 Augustus het hulle worsrolletjies aan minderbevoorregte kinders uitgedeel.

“Ons wil graag die behoeftige gemeenskap help en ’n bietjie vreugde bring, al is dit net vir ’n oomblik,” sluit Ronell af.

Indien iemand skenkings aan Deo Gloria Huis wil maak, kontak Ronell by 072 384 1923.

Exit mobile version