Panorama bejaardes hou sommer lekker ‘kommin-partytjie’

Daar was unieke kleure, klere en klank tydens die bejaardes by Panorama Landgoed se onlangse 'kommin-partytjie'.

Panorama Landgoed Aftreeoord inwoners het onlangs op ‘n unieke wyse baljaar toe die bestuur vir hulle ‘n ‘kommin-partytjie’ as tema aangebied het.

Volgens bestuurder Tania Smith hou hulle elke jaar ‘n soortgelyke gebeurtenis, net met verskillende temas. Sy vertel verder dat dié spesifieke tema vanjaar ‘kommin’ was, waar die bejaardes so kommin as moontlik moes aantrek. Die woord kommin word deur die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) se sesde uitgawe gedefinieer as volg … ‘met ‘n gebrek aan goeie smaak en afgerondheid’.

Barend van der Berg, Nola Gray, Ria van der Berg, Moyra Scheepers, Jakkie Coetzee en Hettie Raper wys hoe kommin hulle kan wees vir die partytjie.

“Die inisiatief was gestig deur Kotie Jooste waar die dag begin het met toesprake deur Christa Chidrawi en Rini Prinsloo oor kreatiewe veroudering. Ons is in daardie lewensfase waar aanmoediging om nog in jou vaardighede te glo nodig is, asook om nuwe uitdagings aan te pak,” sê Tania.

Tania sê dat na die toesprake het al die bejaardes lekker geklets en hulself geniet.

Nola Gray saam met Annatjie Mitchell wys hul kommin streke.

Sy vertel verder dat die tema deur almal ondersteun was, met kleure, klere en klank.

“Aan oorspronklikheid en kreatiwiteit het dit nie ontbreek by ons gasvrouens se tafels nie. Elkeen was uniek en anders. Baie dankie aan julle vir die spontane deelname wat bygedra het tot ‘n suksesvolle oggend,” het Tania afgesluit.

Exit mobile version