Local news

KYK: Dillon beïndruk met sy kitaar-vernuf

Talentvolle kitaarspeler Dillon Hoffmann van Muldersdrift en sy sanger-vriendin het groot planne met hul eie band.

Sedert Dillon Hoffmann ses jaar oud was, het hy ‘n passie vir musiek gehad en wil hy nou groot naam vir homself in die musiekbedryf maak.

Op 12 het hy met formele musiekklasse begin en soos die jare verbygegaan het, het hy deel geword van bands wat by die musiekklasse ontstaan het.

“My kitaaronderwyser het my geïnspireer om my passie verder te ontwikkel. Ons het orals opgetree; van die Battle of the Bands-kompetisies tot by Rumours Rock City,” sê Dillon.

Nadat hy by vyf bands betrokke was wou hy graag op sy eie en oorspronklike musiek fokus. Die probleem was egter dat hy nie ‘n sanger is nie, maar wel ‘n kitaarspeler.

Gelukkig was Rebecca Lee Arthur aan sy kant, en hy beskryf haar as ‘een van die beste sangers wat ek nog gehoor het’ wat deurgaans saam hom in die bands was.
“Ons was albei jonk toe ons Oblivious opgeneem het. Op ‘n dag tydens oefening het haar melodie my geïnspireer en dit is hoe ons eerste lied ontstaan het. Daarna het ons ons eie band begin en meer liedjies geskryf terwyl ons Oblivious aangepas het totdat ons tevrede was met die perfekte weergawe. Na maande se spaarsamige werk om fondse bymekaar te kry, het ons uiteindelik die liedjie in ‘n ordentlike ateljee opgeneem,” het Dillon bygevoeg.
Hy noem dat hulle baie oor die musiekindustrie geleer het.

“Dit is ‘n ongelooflike gevoel om te weet ons liedjie word regoor die wêreld gehoor wat tans op platforms soos Spotify en Apple Music beskikbaar is. Daar is nog baie op die horison. Nou dat ek amper klaar is met my studies, kan ek weer fokus op my musiek. Daar is ‘n paar projekte wat ek saam met Rebecca wil aanpak en ons sien uit na wat die toekoms vir ons inhou,” het Dillon afgesluit.

Back to top button