Local news

Ma skep bewustheid oor lupus na dogter se afsterwe

'n Ma skep bewustheid oor lupus nadat dit haar dogter se lewe geneem het.

Reynette Bezuidenhoud wil graag bewustheid skep oor lupus na haar dogter, Lisa Marie Bester, se afsterwe in 2021.

Volgens ‘n definisie deur die Nasionale Gesondheidsdienste [https://www.nhs.uk/conditions/lupus/] is lupus kort vir die mediese term Sistemiese Lupus Erythematosus (SLE) – ‘n langtermyn outo-immuun siekte waarin die liggaam se immuunstelsel verkeerdelik gesonde weefsel in baie dele van die liggaam aanval.

Reynette het verduidelik dat haar dogter 12 jaar gelede baie siek geword het van SLE. Sy het baie en duur toetse ondergaan om die siekte te identifiseer. Sy sê dat Lisa Marie in Botswana gaan kuier het vir vriende, en daar het haar kondisie vererger. Sy moes ook daar vir onmiddellike behandeling gaan.

“Sy het veeslike simptome ervaar onder andere haar hare het uitgeval, haar vel was sensitief en haar mond vol sere. Later het haar niere, longe en hart skade gekry. Sy het toe ‘n beroerte en ligte hartaanval gekry,” het Reynette gesê.

Reynette het bygevoeg dat met alles wat in Lisa Marie se lewe aangegaan het, moes sy ook ‘n sielkundige gaan sien.

“Lisa Marie se man het haar hospitaal toe gevat toe sy die dag begin sleg gevoel het. Sy was opgeneem in die hospitaal waar ek later daardie dag ‘n oproep gekry het dat my dogter dit nie gemaak het nie,” sê Reynette.

Reynette is intussen ook met lupus gediagnoseer en dit het ‘n vreeslike negatiewe effek op haar lewe.

“Ek moet my leefstyl rondom die siekte beplan, moet kroniese medikasie drink, ek mag nie in die son gaan nie, my sig gaan agteruit, my tande het uitgeval en my bene en voete is vreeslik seer,” het sy gesê.

Reynette wil graag bewustheid van die siekte skep, omdat baie min mense weet wat dit is, en sy beweer dat sommige hospitale nie eers weet van die siekte nie. Reynette wil nie laat mense ly met die siekte nie, en raai hulle aan om ondersteuning te kry. Enigiemand wat ondersteuning soek in verband met SLE kan haar kontak by 082 441 5328.

Back to top button